P.G. du Plessis ‘het onwetend self huldeblykboek se titel gekies’

P.G. du Plessis: Hy was ʼn rukkie pagter hier

ʼn Boek wat pas bekendgestel is om hulde te bring aan die ontslape P.G. du Plessis, gee ʼn intieme kyk na die verskillende kante van dié veelsydige digter, televisiepersoonlikheid, skrywer en dramaturg se menslikheid, en sy veelsydige kunstenaarskap.

P.G. du Plessis: Hy was ʼn rukkie pagter hier is Donderdag amptelik in Potchefstroom bekendgestel.

Heilna du Plooy, wat as redakteur van die boek opgetree het, het tydens die bekendstelling in gesprek met Jacques van der Elst van die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en Kuns, vertel oor haar ervarings saam met en herinneringe aan Du Plessis. Du Plessis se vrou, Marie, en sy twee kinders, Frits en Marieta, het ook die bekendstellingsgeleentheid bygewoon.

Jacques van der Elst en Heilna du Plooy (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Du Plooy het ʼn paar maande voor Du Plessis se afsterwe op 7 Junie 2017 by hom op sy plaas gaan kuier, waar hy onwetend sélf die titel van sy huldeblykboek gekies het.

“Dit was altyd lekker om by P.G. en Marie op die plaas te gaan kuier. Die laaste keer wat ek daar was, was hy al baie siek, maar sy kop was nog so helder soos glas,” het Du Plooy vertel.

“Ons het heerlik gesels en hy het kostelike dinge vertel. Marie het vir ons spinasietert aangedra en Hans [du Plessis] het self ook daar aangekom. Hy het my vertel oor dinge waaroor hy trots was en dinge waaroor hy dalk nié so trots was nie. Ons het regtig lekker gesels.”

Heilna du Plooy (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Du Plooy het gesê dié onderhoud was vir haar veral spesiaal omdat sy glo daar is literêre anekdotes en wonderlike stories wat bestaan, wat nie behoue gaan bly, as dit nie opgeteken word nie. Sy is dus trots daarop dat sy daarvan deel kon wees om dit wel op te teken.

Toe Van der Elst vir Du Plooy vra oor die titel, het Du Plooy gesê dit was Du Plessis se eie woorde. Sy het ʼn deel uit die boek voorgelees.

“Dis ongelooflik, ek betrap mysélf soms dat ek vir myself lieg, en dit is een van die dinge wat jy moet afleer as jy wil skryf. Van jou karakters, maar ook van jouself – oor jou en die menslike toestand. Ons is hier vir ʼn baie kort tydjie, dis basies ʼn gestadigde dood. Alles tevergeefs, sê die prediker, ja alles is tevergeefs.

“Elke keer as ek op die televisie kyk na die ouens wat mummies gemaak het, met hoeveel moeite en liefde en geloof hulle die goed aanmekaar gehou het. Dan besef ek net weer, hier sit ek, oor ʼn rukkie is ek ook. Ek het my eie grafskrif ontwerp, my grafskrif is klaar! Wil jy hom hoor? Hulle moet ʼn klip platmaak hier by die olifantboude, dis nou die Jonas‑klippe, en daarop skryf: Hierdie bries is P.G. du Plessis se as verwaai, hy was ʼn rukkie pagter hier.”

Du Plooy het gesê Du Plessis was een van die slimste mense wat sy al ooit mee gepraat het.

Van linkd: Jacques van der Elst, P.G se seun, Frits, Heilna du Plooy P.G. se vrou, Marie, en sy dogter, Marieta (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Hy was verskriklik belese en ervare. As ek by P.G. gekuier het en ek gaan daar weg, dan voel dit sommer vir my ander mense praat so gewoon. Dit was altyd verskriklike intellektuele stimulerende gesprekke wat ons gehad het.”

Die boek bevat onder andere ook vertellings oor hoe Du Plessis te werk gegaan het om die gewilde TV-reeks Koöperasiestories te skryf.

“Die subredakteur het na P.G. toe gekom en die vorige dag se hoofartikel voor hom oopgemaak, dan druk hy met drie vingers op die blad, en dan moet P.G. ʼn storie rondom die drie woorde waarop sy vingers geland het, skep. Hy het ook net ʼn paar ure gehad om dit te doen. Maar almal het geweet hy kon die beste werk onder druk. En dan skryf hy daai storie fantasties. Hy het heel nuwe terreine betree, dit was baanbrekerswerk!” het Du Plooy gesê.

Heilna du Plooy (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Du Plooy het verskeie mense se insette gekry om die boek saam te stel. Die boek bevat natuurwetenskap, ’n diepgaande studie van een van Du Plessis se dramas, ʼn oorsigartikel oor die ander dramas, artikels oor kortverhale, oor die Koöperasiestories en oor die groot romans. Marida Swanepoel het ook ʼn artikel geskryf oor sy televisie- en filmwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

J ·

Die artikel is baie getrou aan die waarheid – goed geskryf. Ek was ook daar en die artikel herinner my weer aan die goed wat daar gesê is (en aan dit wat ek reeds van vergeet het).

Die aand het daar ook ‘n glas gebreek en die onderhoudvoerder het sonder om ‘n oog te knip reageer met : “Gerwe bring geluk”. Wat beteken dit? Of het hy op iets anders reageer en was die glas wat op daardie oomblik gebreek het, bloot toevallig? Ken iemand die spreekwoord?

Gemaskerde Sopbeen ·

Sjoe, vat dit ‘n mens nou terug….ek het saam met sy suter Miemie verjaar….en sy was met my ouma Lenie Nel se broer Flip Lourens getroud…..Daai was waaragtig die goeie ou dae…ons kon vir ure na hom sit en luister….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.