Pa publiseer dogter (9) se boek

Die 9-jarige Giulia le Roux het onlangs een van die jongste skrywers in Frankryk geword. (Foto: Erik le Roux)

Die 9-jarige Giulia le Roux het onlangs een van die jongste skrywers in Frankryk geword ná haar pa, Erik le Roux, stilletjies haar boek Cinq Plumes Perdues (Five lost feathers) laat publiseer het.

“Ja, Giulia is trots, maar sy wil nie eintlik hê dat enigiemand moet weet nie, veral nie die kinders in haar skool nie,” vertel Le Roux, mede-aanbieder van die gewilde Edik van Nantes-reeks en broer van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Nataniël, aan Maroela Media.

Nataniël, die peetpa van Le Roux se twee dogters, is ook net so trots op Giulia. Hy beskryf haar as ʼn fassinerende kind en verklap dat sy sommer so “rap met ʼn keps en juwele en haar eie toneeltjies opvoer”.

“Natuurlik is ek ongelooflik trots. Giulia se storie maak jou bewoë wanneer jy dit die eerste keer in haar handskrif sien in Frans, want sy skryf oor goed wat grootmense nie geleer het nie.

“Dit is ʼn pragtige verhaal met diere as hoofkarakters en met ʼn lewensles oor samesyn. Ek hoop dit word ʼn epic ding wat vir ewig sal bly bestaan.”

Om die waarheid te sê, Giulia se uitlewing van haar kreatiwiteit is te danke aan die Le Roux-egpaar se wonderlike insette in hul dogters se lewens, meen Nataniël.

Le Roux het self al ʼn digbundel die lig laat sien en sy vrou is ook gek oor boeke en lees. Stories is dus ingewortel in die leefwêrelde van dié familie.

“Erik en sy vrou is teenoorgesteldes van mekaar, maar hulle is uitstekende ouers, elkeen op sy eie manier. Giulia en haar sussie kry dus die beste ondersteuning uit twee verskillende wêrelde en dit skep die perfekte omgewing vir hulle kreatiwiteit om vlerke te kry,” sê Nataniël.

Le Roux het die hele publikasieproses op sy eie hanteer. Giulia was dus salig onbewus van hierdie projek waarmee haar pa besig was. Sy het eers uitgevind toe hy haar met ʼn eksemplaar van die boek verras.

Le Roux sê hoewel dit ʼn enorme prestasie is, respekteer hy sy dogter en is dit vir hom as ouer ʼn prioriteit om haar te beskerm.

“Die feit dat ʼn 7-jarige kind ʼn boek kan skryf beteken nie noodwendig dat hy of sy ʼn besondere talent of geniale gene het nie. Dit is eenvoudig wat gebeur as jy passievol oor iets is, hard werk en vroeg genoeg ondersteun word. Giulia het nie ʼn beroepskeuse gemaak nie.”

Hy sê sy dogter verslind een na die ander boek, en soms lees sy sommer drie of vier boeke gelyktydig.

Wanneer Le Roux haar in die middag by die skool oplaai, gee sy haar tas vir hom aan, daarna haal sy ʼn boek uit en so loop sy en lees deur die begraafplaas tot by die motor.

“Soms is dit ouers se verantwoordelikheid om hul kinders te volg, nie altyd te lei nie.”

‘Cinq Plumes Perdues’ (‘Five lost feathers’)is deur die 9-jarige Giulia le Roux geskryf. (Foto: Erik le Roux)

Daar is omtrent geen publisiteit in Frankryk gedoen tot nou toe nie, maar dit sal waarskynlik verander sodra die nuwe skooljaar in September begin.

“Sy sal my seker kwalik neem tot sy 18 is, maar, nou ja, ek hoop sy sal eendag verstaan,” skerts Le Roux.

Giulia het die kinderboek geskryf toe sy net ouer as sewe was.

“Sy het een middag by die kombuistafel gesit en skryf toe sy eintlik veronderstel was om huiswerk te doen.

“Die storie het dadelik my belangstelling geprikkel. Ek was verstom oor die verskillende vlakke van insig en die manier hoe sy al die elemente van die storie in iets konkreets kon omskep.”

Cinq Plumes Perdues is geskik vir lesers tussen nul en agt jaar en dit gaan oor onderwerpe soos omgee, empatie, vriendskap en die onverwagse.

Le Roux is dit eens met sy broer dat dié verhaal uit sy dogter se pen treffend is.

“Soos met enige storie wat afgerond word vir publikasie, was daar ʼn paar veranderinge, maar ek het gedink: ‘Genade, dit is so eenvoudig en so mooi, net ʼn kind sou dit kon skep’.”

Dit het meer as ʼn jaar geneem om ʼn uitgewer in die uiters mededingende Franse boekmark te vind. Uiteindelik het ʼn uitgewer in Nantes, die stad waar die Le Rouxs woon, ingestem om die boek uit te gee.

Hulle het toe daarop aangedring om ʼn Suid-Afrikaanse illustreerder te gebruik om die verbintenis met Le Roux se geboorteland te versterk.

“Ek het vir Juani Scholtz, ʼn jong kunstenaar van Pretoria, opgespoor wat wonderlike werk in ʼn baie kort tydjie gedoen het. Juani was deurentyd ongelooflik ordentlik, gaaf en eerlik,” gaan hy voort.

‘n Voorsmakie uit ‘Cinq Plumes Perdues’ (‘Five lost feathers’), wat deur die 9-jarige Giulia le Roux geskryf is. (Foto: Erik le Roux)

Le Roux het op Juani se profiel op ʼn webwerf afgekom en gevra dat sy ʼn kwotasie stuur. Hy het aanvanklik niks oor die projek gesê nie en versoek dat Juani meer oor haarself vertel.

“Iets van haar storie oor sheba wat sy met pap eet, dat sy deeltyds in ʼn hospitaal werk, en dat haar ouma en oupa saam met hulle in die huis woon, het by my aanklank gevind. Ek het dadelik geweet Juani was die regte persoon om Giulia se boek te illustreer.

“ʼn Boek is vir ewig en ek kon nie ʼn siellose mens kies nie. Daar is ʼn verband tussen die illustreerder en skrywer wat eg moet wees. Ek hoop dat sy en Giulia eendag kan ontmoet, want hul sal vir altyd ʼn verbintenis hê.”

Of die boek wel eersdaags vertaal gaan word of vir Suid-Afrikaanse lesers toeganklik gaan wees, kan Le Roux nie sê nie.

“Ek het geen idee hoe die pad vorentoe lyk nie. Die Suid-Afrikaanse boekmark is klein en ʼn mens weet nie hoe uitgewers dit sal ontvang nie, maar as dit wel vertaal word, sal ek graag wil hê dat Nataniël dit doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Madelein ·

Trots!!! Ek glo Nataniel sal die vertaling met die grootste plesier behartig!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.