Paasfees-oordenking: ‘Wie laaste lag, lag die lekkerste’

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Ivor Swartz, jeugpastoor by die NG-gemeente in Oosterlig, Pretoria, sê in sy Paasfees-oordenking dat die kruisdood van Jesus eintlik die sterkste uitbeelding is van die spreekwoord “wie laaste lag, lag die lekkerste”.

“Ek bedoel dit natuurlik met groot respek en in die goeie sin van die woord. Markus vertel in sy evangelie vir ons hoe dat daar bokant Jesus se kop aan die kruis ʼn bordjie met ‘Koning van die Jode’ vasgekap was. Dit was die aanklag teen Jesus. Dit was Sy skuldigbevinding in die hof. Dit was die Romeine se manier om ʼn  bespotting te maak van die man wat beweer het Hy is koning van die Jode, Jesus van Nasaret.”

“En die verbygangers het Hom gesmaad, terwyl hulle hul hoof skud en sê: Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, verlos Uself en kom af van die kruis! En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes gespot en vir mekaar gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo! Ook die wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig (Markus 15:29-32).”

Hierdie teksgedeelte uit Markus vertel hoe verbygangers hul koppe spottend geskud het, Hom gelaster het. “Red jouself en kom van die kruis af. Laat die koning van Israel nou van die kruis af kom sodat ons dit kan sien en in Hom glo.”

Wat ʼn versoeking was dit nie, wonder Swartz gereeld. Hy meen hy sou beslis nie die versoeking kon weerstaan het om die mense te wys wie’s baas nie.

“Ek sou hulle speel op hulle reëls en af kom. My ego sou homself wou bewys en ek sou op ʼn ewe wêreldse manier vir hulle wou wys ek is die real deal. Is dit nie wat ons ook doen as ons te nagekom, verneuk, bespot of sleg gesê is nie? Ons wil hulle terugkry. Ons wil terugslaan. Ons wil speel volgens die reëls en maatstawwe waarmee ons seer gemaak is.

“Jesus werk egter nie so nie. Hy volg nie ons egoïstiese menslike reëls om die laaste lag te kry nie. Jesus het toegelaat dat hulle Hom bespot en uittart en slegsê en verneder en uitjou en as die ‘kamstige’ koning van die Jode bespot. Maar vriende, die kruisdood, die Jesus, die een wat bespot was, het gewen. Toe het die kruisdood die laaste lag gehad.”

  • Ivor Swartz is die skrywer van Die verlore seun vannie Gaatjie wat deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, uitgegee is. Luister hier na ʼn onderhoud met Swartz op Maroela Media.
  • Die video en boodskap word in samewerking met die skrywer aangebied.

Kyk hier na Ivor Swartz se Paasfees-oordenking:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.