Pastoriemoeder van Grabouw kuier en kook

Marilyn Gantana, ’n pastoriemoeder en taalonderwyseres, se resepteboek, Marilyn kuier en kook, het ’n ereplek tussen al my ander kookboeke gekry, want sy glo nes ek daaraan om lekker kos met min te maak. Sy weet hoe ’n besige lewe ons almal noodgedwonge lei, maar glo dat elke gesin lekker saam moet eet. Marilyn se resepte word beskryf as “sonder fiemies, eenvoudig en vinnig om te maak” en sluit in ekonomiese watertandkos gemaak met bestanddele wat geredelik in ons koskaste beskikbaar is.

Marilyn skryf: “As jy kwaad of ongelukkig is, sal die kos wat jy maak ook so proe. As jy lekker kos vir iemand wil berei, doen dit met ’n blye hart.” Te oordeel aan Marilyn se vriendelike glimlag waar sy op die voorblad pryk met ’n heerlike, vars slaai in ’n houtbak, deel sy nie net raad uit nie, sy lééf dit ook uit in haar kombuis. Elmarie Knapton se pragfoto’s van die veelsydige geregte maak dat jou mond water en jy nie kan wag om die resepte te beproef nie.

Die inhoudsopgawe van Marilyn kuier en kook lees soos ’n goed uitgewerkte spyskaart – slaai, sop, ligte etes en bygeregte, vis en seekos, maalvleis, hoender, rooivleis en soetgoed en gebak. Hoe klink peppadew-en-spinasie-pastaslaai, botterskorsieroomsop, boeliebief-en-mielie-flapjacks, garnaalkerrie, ouvrou-onder-die-kombers, hoenderboudjie-lekkerte, tamatie-en-boontjiebredie met varkworsies, kapokaartappelbrood en vrugtesosasties met gegeurde room vir jou?

Marilyn reken: “Hierdie smaaklike disse is nét die regte medisyne vir daardie dae wat jy na die trooskos van jou ouers verlang. As jy spoggerig wil wees, kan jy dit selfs opkikker vir wanneer jy gaste onthaal.”

Marilyn Gantana se Marilyn kuier en kook is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word by www.lapa.co.za

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.