PharosAanlyn nou varser, vinniger en kragtiger

pharos newPharosAanlyn is reeds ’n staatmaker vir verskeie gebruikers in die media-, reklame- en vermaaklikheidsbedryf. Met sy vars ontwerp, verbeterde koppelvlak en kragtige soekenjin sal die nuwe www.pharosaanlyn.co.za selfs meer onontbeerlik wees vir dié wat daagliks vinnig, akkuraat en sinvol moet kommunikeer.

Dié webwerf, ontwikkel deur die Kaapse webagentskap LightSpeed, bied toegang tot meer as 30 naslaanbronne en woordelyste. Die diens is wêreldwyd, 24/7, beskikbaar. Boonop kan intekenaars uitsien na opwindende nuwe bronne wat jaarliks toegevoeg word. PharosAanlyn se skoon, intuïtiewe uitleg en aanpasbare ontwerp optimaliseer intekenaars se gebuikservaring – op enige rekenaar of tablet. Gebruikers kan selfs hulle rekeningbesonderhede self bywerk.

Volgens NB-Uitgewers se digitale uitgewer, Nèlleke de Jager, is PharosAanlyn “sonder twyfel Pharos se grootste digitale bate”. “Ons is baie in ons noppies met die nuwe PharosAanlyn wat ’n nuwe era vir Suid-Afrikaanse boekuitgewerye aankondig. Nie alle digitale inhoud hoef liniêr aangebied te word om vir lesers/gebruikers van waarde te wees nie,” sê De Jager.

“Ons wou PharosAanlyn-gebruikers bederf met ’n nuwe, vars en vriendeliker omgewing. Ons hoop hulle stem saam dat dié nuwe webwerf die kol tref. Dit bied selfs interessante brokkies soos ’n spreekwoord en woord van die week, en watter woorde die meeste op die webwerf gesoek word,” sê Pharos se uitgewer, dr. Wanda Smith.

PharosAanlyn, die versameling internetwoordeboeke van NB-Uitgewers se druknaam Pharos (deel van Media24), bly aan die voorpunt van Suid-Afrikaanse aanlyn woordeboeke. Met hierdie nuwe, gebruikersvriendelike webwerf bou PharosAanlyn daarop voort om ’n betroubare en onuitputbare digitale bron van inligting te wees.

Terugvoer deur huidige gebruikers

“Dit is wonderlik om nie elke keer wanneer jy vashaak met ’n woord se spelling, betekenis, sinonieme of vertaling ’n swaar woordeboek hoef nader te sleep en heen en weer daarin na te slaan nie. Ek hou altyd Pharos se aanlyn woordeboek oop wanneer ek op my rekenaar skryf, en tik net die woorde waarmee ek vasdraai in die soekvenster in. Pharos het altyd die antwoord.” – Almari Wessels (skrywer, Huisgenoot)

“Dit is onontbeerlik in my werk. Ek maak in die oggend die webwerf oop, en elke nou en dan soek ek ’n vertaling, of hoe ’n sekere woord in ’n konteks gebruik word. Dit is handig dat dit so vinnig is, in plaas van om die woorde in ’n fisiese woordeboek te gaan soek. En die groot verskeidenheid van woordeboeke is ’n groot pluspunt, veral vir ons program waar jy soms navorsing moet doen oor mediese onderhoude, of regsterme waaroor ons nie seker is nie.” – Jomarié Dick (inhoudsvervaardiger en navorser by kykNET Dagbreek)

“I’m a big fan of online dictionaries and PharosOnline is particularly useful when translating. I love the convenience of being able to toggle between screens and not having to flip through the pages of the tomes on my desk.” – Charlene Rolls (deputy editor, YOU)

“PharosAanlyn is maklik, verstaanbaar en bied ’n wye verskeidenheid. In kort – wonderlik!” – Lizz Meiring (aktrise, joernalis en skrywer)

Besoek: PharosAanlyn

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.