Piekniek by Hangklip

Kerneels Breytenbach

Joshua Gumbo, ‘n lid van die Lucky Thirteen-sindikaat in Johannesburg, skiet Sonja Griessel se ouers per abuis wanneer hy Sonja se 4×4 probeer kaap. In die proses struikel sy uit die voertuig en plant ‘n soen op haar kaper se mond.

Die dood van haar ouers traumatiseer Sonja dermate dat sy al haar besittings oppak en padgee na die Kaap, waar sy haar voete weer wil vind. Joshua, wat glo dat die soen hom van sy mojo beroof het, vat haar spoor. Hy probeer sy tanende mojo aanvul deur die moord op meer as 34 mense wat hy van geen kant af ken nie. Bedags die toonbeeld van eerbaarheid, saans die bringer van die dood.

Sonja vestig haar in Pringlebaai, waar sy met die hulp van ‘n baie beroemde decon-argitek vir haar ‘n nuwe huis in Bettysbaai beplan. Tussendeur maak sy kennis met onbetroubare prokureurs, eiendomsagente, boukontrakteurs, vertrouenswendelaars, charismatiese kerkleiers, swartbemagtigingsaktiviste en ’n Afrikaanse literêre biograaf.
Deur die reinste van toevalle spoor Joshua eindelik vir Sonja op, en hul paaie is bestem om vir oulaas te kruis – by die geselligheid waaraan die boek sy titel te danke het.

Kerneels Breytenbach se eerste roman in agtien jaar, iets wat hy beskryf as “’n speurverhaal sonder ’n speurder”, is ’n stilistiese kragtoer wat lesers lank sal bybly

Oor die outeur
Kerneels Breytenbach is in Johannesburg gebore, was op Alberton op skool en het aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hy was daarna joernalis by Beeld en Die Burger voordat hy uitgewer geword het. Hy debuteer in 1992 met Morsdood van die honger, ‘n bundel kortverhale, en volg dit in 1993 op met die roman Glimlag. Sy resepteboek Die lekkerste lekker het in 2005 verskyn. Kerneels het onlangs afgetree as publikasiebestuurder van NB-Uitgewers. Hy bly op Bettysbaai.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R220,00*
* Prys onderhewig an verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.