Piet Matipa gee ʼn ‘dwarsklap’ met humor én in Afrikaans

Matipa saam met Ilse Salzwedel (Foto: Facebook)

Drie tannies met spierwit hare – elkeen sʼn opgetooi en styf gespuit met sekerlik ʼn hele blik haarsproei – staan en kibbel by die deur. Binne enkele oomblikke gaan die bekroonde skrywer Piet Matipa by dié deur instap om te gesels oor Dwarsklap, sy boek wat pas vrygestel is.

“Waar is die kaartjies?” vra die tannie met die heel grootste haredos heel mismoedig. “Hoe gaan ons na Piet luister as ons nie die kaartjies het nie?” Sy frons diep. Buiten vir dié frons, is daar nie veel meer lyne op haar gesig nie.

“Ek het die kaartjie vir jóú gegee,” sê ʼn ander tannie in ʼn hees stem. Die ander een skud haar kop. “Ek hét,” beaam sy. “Kyk in jou handsak.”

Sy grawe in haar handsak. Uit dié groot sak trek sy drie kaartjies. Hieroor lag hulle uitbundig. Dis ook maar goed Matipa het nóg nie by die deur ingestap nie, anders was dié tannies sekerlik ook die middelpunt van ʼn skreeusnaakse rubriek vol kwinkslae en lewenswyshede.

Dít is immers sy geheim: niks en niemand gaan ongesiens verby nie – hy is ʼn fyn waarnemer wat klein oomblikke van die lewe kan omskep in stories wat laat lag én huil en boonop propvol lewenswyshede is wat jou onder die indruk van sy meesterskap bring.

Matipa en die bekroonde skrywer en joernalis Ilse Salzwedel het Donderdag by die Boekejol en Filmrolfees in Pretoria Dwarsklap bespreek.

Iets wat sekerlik minder bekend is oor die skrywer is dat hy grootgeword het in ʼn kinderhuis. Hy het sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria voltooi en toe joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer. Matipa was ʼn handjievol jare ʼn misdaadverslaggewer vir die dagblad Beeld en is tans ʼn storielyn- en dialoogskrywer vir die gewilde SABC-sepie 7de laan.

Drie dinge wil hy vanuit die staanspoor baie duidelik maak: nee, hy ken nié die sogenaamde Waterkloof-4 nie, hy was gek oor die kinderhuis en hy is nié verantwoordelik vir Oubaas wat 7de Laan verlaat nie.

“Die vrae wat sekerlik die gereeldste opduik is dié van Waterkloof, die sepie en die kinderhuis. Oor die kinderhuis het ek net goeie herinneringe. In geen sin was dit wreed nie – dit was ʼn baie vermaaklike plek wat baie bygedra het tot die persoon wat ek vandag is,” vertel hy.

Oor Hoërskool Waterkloof: “Elke keer as ek vir iemand sê ek was in Hoërskool Waterkloof, vra hulle of ek die sogenaamde Waterkloof-4 ken. Die antwoord is ‘nee’,” lag hy uitbundig. “Ek ken hulle glad nie. En nee – ek is ook nie die rede dat oom Oubaas 7de Laan gaan verlaat nie.”

Op ʼn vraag uit die gehoor antwoord hy egter opgewek: “Ek is wél die rede vir die vliegtuigongeluk – maar daaroor sal niemand kla nie, ons het gesien hoe skiet die kykersgetalle op; moenie vir my sê julle was nie gaande daaroor nie.”

Dié stories verskyn wel nie in sy boek nie, maar talle ander – almal wat beloof om te vermaak en ʼn klein stekie na vooropgestelde idees in die samelewing te gee – is wel daar.

Matipa se boek, ‘Dwarsklap’ (Foto: Facebook)

“Ek is reeds op skool deur my onderwysers aangemoedig om meer in Afrikaans te skryf en te praat. Vandag kies ek Afrikaans as my eerste taal omdat ek lief is vir die taal. Maar dit is nie my moedertaal nie. Toe ek nog jonk was en net by die kinderhuis aangekom het, het al die kinders daar maar Afrikaans gepraat, en ek kon niks verstaan nie. Ek het toe maar net geluide in my mond gemaak om te maak of ek saamgesels, maar in die tussentyd het ek dit stelselmatig aangeleer.”

Die Afrikaans waarin hy skryf en wat in sy stories gesien kan word, blyk anders te wees as dié van meeste skrywers, stel Salzwedel voor.

“Maar tog skryf jy met ʼn groot respek en liefde vir Afrikaans,” sê sy.

Matipa lag. “Ek klap Afrikaans bietjie rond. Ek is nie die mooiste skrywer nie, of altans – ek het nog nooit gedink dat ek die mooiste skryf nie. Ek word altyd gespot, want as ek byvoorbeeld ʼn metafoor gebruik, vergeet ek kort in die storie in skoon dat ek begin het daarmee en gaan dan sommer aan met ʼn ander metafoor. Ek klap die taal rond en ek hanteer dit nie met handskoene nie, miskien is dit waarna jy verwys.”

Anders as sy loopbaan as sepieskrywer – iets waarvan hy altyd gedroom het – is alles in sy boek nié fiksie of “opgemaak” soos hy daarna verwys nie.

Dwarsklap is sowat 60 000 woorde wat bestaan uit rubrieke met dié einste lewenswaarhede gekoppel aan die humor waarvoor die skrywer bekend is. Sommige hiervan is fiksie en ander is geïnspireer deur werklike gebeurtenisse, maar dís nie die belangrikste nie, sê hy – die belangrikste is dat die leser dit geniet en vir net ʼn oomblik weggesmokkel word na ʼn ander wêreld.

“My lewe het nie baie drama nie – wanneer ek drama kry, dan klou ek maar daaraan sodat ek stories daaruit kan kry. Om ʼn rubriek te skryf is niks in vergelyking met ʼn boek nie. Ek moes by tye 7 000 woorde per aand skryf. My arm was so ongelooflik lam gewees,” terg hy en demonstreer arm-in-die-lug presies hóé lam 7 000 woorde ʼn mens se arm maak. “Maar eintlik is dit my eie skuld. Penguin [Random House – die uitgewer van die boek] het my ʼn jaar gegee om die boek te voltooi en ek het die laaste paar maande eers begin skryf.”

In dié boek is ook baie meer persoonlike vertellings uit sy uit lewe as wat voorheen uit sy skrywes gesien kon word, sê hy.

“Ek is vandag gemakliker om meer oor persoonlike dinge te skryf as wat ek vroeër in my loopbaan gedoen het. Die geheim vir my om persoonlike dinge te deel, is om dit op ʼn snaakse manier te doen. Volgens my is dit die geheim van die lewe: om alles nie so êrenstig op te neem nie, en ook bietjie vir jouself te lag. Ek hoop dié boek bevorder dit in mense se lewens.”

Lees meer oor Dwarsklap op Maroela Media.

Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R240-00*
Koop die boek by Graffiti Boeke vir slegs R192-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Die Boekejol en Filmrolfees word nog tot 20 Augutus in Pretoria aangebied. Vir meer inligting oor ander gesprekke wat aangebied word, besoek die fees se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lena Jonk ·

Piet Matipa jy is n wenner in stories skryf. Jy was ook n gewilde, aangename en grapmaker leerling in Hoerskool Waterkloof. Het gereeld gehoor by jou mede leerlinge hoe goeie sin vir humor jy gehad het. Baie voorspoed vir jou toekoms, baie dankie ook vir die mooi voorbeeld wat jy as jong man stel aan ander jonges, ek praat nie van jou streke nie net die goeie goed. Mooi loop.

Pieter Ellis ·

Jitte Lena Jonk, ek het altyd gedink dit is Hoërskool Waterkloof. Wanneer het dit n bordeel geword?

ken van benoni ·

Pieter:
? Baie skerp, het albei kommentare geniet?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.