Plaasaanvalle: Jou woorde kan ’n verskil maak

Anneline Kriel-Bacon en Jacques LaGrange (Foto: Leonard Arendt)

Deur Rentia Mynhardt

Die verkope van My Gebed vir ʼn Boer, wat in 2021 deur Ns. Skrywershuis uitgegee is, kon reeds ʼn verskil in die vorm van traumaberading in die lewens van slagoffers tydens plaasaanvalle maak. My Gebed vir ʼn Boer TWEE word tans saamgestel en sal weer, onder andere, bydraes van bekendes bevat. Die publiek word ook genooi om by wyse van gebede, gedigte of verhale aan dié projek deel te neem, om sodoende ʼn verskil te maak.

Nico Schamrel, eienaar van Ns. Skrywershuis, het die behoefte gesien om boere en hul werkers wat nie net fisiese nie, maar veral ook emosionele letsels van plaasaanvalle dra, emosioneel by die staan.

Hy was self al die slagoffer van ʼn plaasinbraak en moes leer om die sielkundige uitwerking wat dit op jou het te verwerk.

“Ek raak steeds angstig en is bewus van elke naggeluid. Soms skrik ek wakker wanneer ek ʼn vreemde geluid hoor.”

Die idee om ʼn gebedeboek saam te stel met die trooswoorde van bekendes, maar ook Jan Alleman, het by hom posgevat.

“Die opbrengs uit die boekverkope word dan tot voordeel van slagoffers van plaasaanvalle in die vorm van traumaberading aangewend. Die projek is geensins polities van aard nie en hulp word ongeag van velkleur aangebied,” verduidelik Nico.

Micro Expressions Solutions, met Amorié Kemp aan die stuur, bestuur die traumaberadingsproses aan slagoffers van plaasaanvalle, maar ook aan hul families. Hulle maak gebruik van beraders soos Mariëtte Wilbers, wat ook vrywillige werk doen as traumaberader by Netcare 911 en as kapelaan by die nooddienste (Emergency Services Chaplaincy Southern Africa).

Amorié sê die emosionele omvang en skade wat na afloop van ʼn plaasaanval agtergelaat word, is ondenkbaar. Die rou seer, verwarring, onbeantwoorde vrae, angsaanvalle en depressie is net ʼn paar voorbeelde van die dinge waarmee ʼn slagoffer moet leer saamleef.

“Skenkings soos die inkomste uit verkope van My Gebed vir ʼn Boer maak dit vir ons moontlik om ʼn waardevolle diens op hierdie terrein te lewer.”

“My Gebed vir ʼn Boer TWEE”. (Foto: Ns. Skrywershuis)

Die impak van ʼn plaasaanval kring wyd uit. Behalwe vir die oorweldigende emosies wat die direkte slagoffers moet hanteer, lê plaaswerkers, familie, vriende en bure snags van bekommernis oor geliefdes wakker. ʼn Plaasaanval is lankal nie meer iets waaroor jy net in koerante lees nie. Die moontlikheid dat jy iemand ken wat al hierdeur geraak is, word daagliks groter – so ook die behoefte vir emosionele ondersteuning aan diegene wat aan die ontvangkant van soms onmenslike dade moes staan.

Die meeste van ons is gewalg met die barbaarsheid en koelbloedigheid waaraan plaasaanvalle so gereeld gekenmerk word. Die emosionele skade wat hierdeur veroorsaak word sal nooit herstel kan word nie, maar as jy wil help om dit dalk ʼn bietjie sagter te maak met behulp van berading, gee My Gebed vir ʼn Boer TWEE jou die geleentheid om indirek ʼn waardevolle bydrae te lewer.

Skryf ʼn gedig (300 woorde), gebed (150 woorde) of verhaal (1 500 woorde) teen R100 per inskrywing, of bestel solank jou boek teen R200 (R60 vir aflewering by jou naaste Pep-winkel ingesluit). Jou bydrae sál ʼn verskil maak, al is dit hoe gering. Gebruik gerus “brood” as tema om jou in jou skryfwerk te lei. Brood is nie net ʼn aanduider van ons daaglikse voedsel nie, maar is ook simbolies aan godsdiens en die lewe self.

As ambassadeur vir My Gebed vir ʼn Boer TWEE, beywer Anneline Kriel-Bacon haar vir die bewusmaking van hierdie edel projek. Sy is reeds van die eerste boek af aktief betrokke.

Jy kan ook verwag om bydraes deur bekendes soos Jacques LaGrange, Amor Vittone, Marciel Hopkins, Meyer le Roux en Mike Bolhuis te sien.

Hannon Bothma vertel ʼn hartroerende verhaal, terwyl Marinda Engelbrecht haar spesiale broodresep met lesers deel. Skrywers soos Carla van der Spuy, Marizka Coetzer en Francis Grobler lewer ook ʼn bydrae.

Met komiese vertellings en resepte, regdeur tot ernstige verhale, is daar iets vir elke smaak.

Die sluitingsdatum vir bydraes is 31 Augustus 2022 en My Gebed vir ʼn Boer TWEE sal na verwagting teen einde November uitgegee word. Engelse bydraes is welkom en daar is geen beperking op inskrywings nie.

Om finansieel by te dra, solank jou boek te bestel of om jou woorde te laat tel, besoek Ns. Skrywershuis se webwerf.

Meer oor Ns. Skrywershuis

Nico Schamrel (Foto: Highlights Photography)

As kampvegter vir Afrikaans, het Nico Schamrel Ns. Skrywershuis gestig om aan skrywers die geleentheid te bied om die droom van ʼn boek van goeie gehalte op die rak te laat waar word. Omdat hy self skryf (hy word onder andere in 2020 benoem vir die Chris Barnard-prys met sy kortverhaal, Kaggen, wat in die bundel opgeneem is), weet hy eerstehands wat die skrywer se behoeftes is en dít is wat sy dienslewering uniek maak. Hy stap die hele boekpad geduldig en ondersteunend van begin tot einde saam en help veral ook met bemarking (webwerwe, media, radio en sosiale media).

Verskeie radiostasies saai voorlesings van dié skrywershuis se boeke uit, soos gelees deur Johan Allers, vantevore SAUK-joernalis in 54 lande. By Ns. Skrywershuis se aanlyn koffiewinkel kan jy ʼn lusmakertjie van geadverteerde boeke onder oë kry voordat jy jou aankope doen. Onder die Lokflieks-afdeling word van visuele bemarking gebruik gemaak en voorlesings met klankbane kan onder die Luistervink-afdeling gevind word. Die webwerf oortuig dat diens hier inderdaad op ʼn unieke manier gelewer word.

My Gebed vir ʼn Boer TWEE dien nie net ʼn goeie doel nie, maar sal ook leesstof wees wat ʼn verskil op jou boekrak gaan maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.