Poenankies: Bekendes se kinderstories

Poenankies, saamgestel deur Charmaine Nolte en Milan Murray, word uitgegee deur Murray & Me.

Hierdie versameling kinderstories deur bekendes is ’n visueel aantreklike publikasie. Illustreerders Sarlee van den Berg, Marisa du Toit en Lauren Nel pronk behoorlik met hulle verbeeldingryke en kleurvolle illustrasies wat kwistig deur die boek gebruik is. Ek is baie bly dat Murray & Me drie verskillende illustreerders, elk met haar eie tegniek en unieke aanslag, kreatiewe carte blanche gegee het, want die stories en gedigte is ook verfrissend uiteenlopend en anders.

Die bekendes wie se werk in Poenankies verskyn, is Diaan Lawrenson, Gielie Hoffmann, HemelBesem, YOMA, Milan Murray, Arno Carstens, Nathan Trantraal, Jana Cilliers, Gys de Villiers, Bibi Slippers en Antoinette Louw. Daar is ’n totaal van 13 verbeeldingryke skryfsels uit die welbekende Afrikaanse kunstenaars se pen.

Dit is inderdaad menslik om te wonder of dit ’n slim bemarkingsfoefie is om slegs bekendes se werk in die bundel van 91 bladsye te publiseer. Ek het bra skepties begin lees, maar ná enkele bladsye het ek terstond van my vooroordele vergeet – Poenankies bied heerlike leesstof en kan as ’n versamelaarsitem beskou word. Die kosbare verbeeldingsvlugte van die kunstenaars het my verwagtinge oortref. Milan Murray het bekendes as outeurs ingespan om groter bewustheid te kweek ter ondersteuning van die biblio’kie-leesprojek. Lees gerus meer oor dié verdienstelike projek hier.

Die bundel sal ou en jong lesers betower, alhoewel ek reken dat grootmense dié kinderboek gaan skaai vir hulleself.

HemelBesem verduidelik in sy storie mooitjies wat kokkenotch beteken. Antoinette Louw se karaktertjie, Lollie, kan vlieg en bollemakiesie slaan in haar drome. Dan ontmoet sy ’n tamaai grote spinnekop met die naam Arrie saam met wie sy tiekiedraai en wawiele maak. Nathan Trantraal vra in pragtige Kaaps: “Waa’s my skoene?” Arno Carstens stel die leser bekend aan Gawie se Gesie wat vir Moeder Tyd bo-op die dorpskafee se dak ontmoet. En dan is daar Gys de Villiers se Geluksvoël wat in die Kakaobos woon en op ’n dag besef dat daar gróót fout is. Boonop is Mooiloop, sy mensekindmaat, soek.

In “Rafi, Rocky en die seekomkommers” skryf Bibi Slippers: “Voor Rafi en Rocky by die seekastaiings kom, sien hulle n groot, rooi jellievis wat deur ’n seestroom vla swem. ‘Kyk op!’ sê die jellievis. Rafi en Rocky lig hulle oë, en bo hulle is die onderkant van ’n reuseroomysberg! Rafi en Rocky roep ’n waarskuwing oor hulle radio: ‘Kgsssssh … seil versigtig, skepe! Daar’s ’n roomysberg op die horison! Oor en uit … kgsssssh.’ Op die oppervlak is die kaptein van ’n groot skip baie verlig. As hy teen ’n roomysberg bots, sal sy skip sommer sink!”

In “Die seepbel en die perdeblom” skryf Milan Murray die volgende vers: “Plomp! land sy op ’n perdeblom se kop / Dis sag en wit soos ’n ballerinarok / Hallo, sê die blom, en die seepbel skrik / Sy’t verwag die saadjies / Gaan haar velletjie prik”.

Meer oor die samestellers:
Charmaine Nolte en Milan Murray bedryf hulle onafhanklike uitgewery, Murray & Me, vanuit Melkbosstrand. “Murray & Me is ’n moedwillige, onafhanklike uitgewery wat self skryf, self publiseer en self versprei.” Die LW Hiemstra Trust het deur ’n ruim subsidie die publikasie van die bundel moontlik gemaak.
Skaf Poenankies gerus hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.