Praat van die duiwel: ‘n uittreksel uit Pik Botha en sy tyd

’n Enigma, noem mense hom. ’n Raaisel.
Hoe verstaan jy iemand soos Pik Botha? Wat maak jy van ’n minister
wat laatnag vir sy vriende grappa in ’n skedel skink, dolosse gooi, of op ʼn
banket aan ’n bos langsteelrose begin smul? Wie is hy? ’n Vuurvreter wat sy
vyande koudsit en doodstaar, of die vredemaker, hul broer in Afrika?
Wanneer ken jy hom? Gebeur dit wanneer hy jou oor ’n tafel aanvat
oor selfbeskikking, oorlog en vrede? Of begin jy hom verstaan in die nanag
onder die sterre in die gloed van die hardekoolvuur, terwyl hy ’n vars vers
uit sy pen van sy sigaretboksie af voorlees?:

Wie is ek?
’n Ruimtereisiger
’n passasier
’n dier
’n aalmoesenier
’n swerwer
jagter wat dikwels mis skiet
dief wat lieg en bedrieg
salaristrekker
grotbewoner
Afrikaner
feite-verdraaier
mens in sy herfs
grafafwagtend
gedagvaardigde verhoorafwagtende
slagoffer van my eie denke
prooi van my eie rooftog
uitgelewerde aan die noodlot
strandloper en skeepswrak
geknakte tak
rokende lamppit
skynheilige gelowige …

Hy het dié gedig in 1985 geskryf, midde-in die tyd van binnelandse onrus
en internasionale vredesonderhandelings vir Suider-Afrika.

“Op ’n manier,” sê Chester Crocker, “het sy persoonlikheid ons altyd
getref as meer as lewensgroot.” Dié man met die skraal gesig, bril en krulhare
het Pik genoeg in aksie gesien, in die dae toe hy Amerika se Adjunkminister
van Buitelandse Sake vir Afrika was, en leier van die onderhandelinge
oor Namibië en Angola. “’n Man van vele fasette,” noem hy Pik.
“’n Mens kry hom nie maklik in ’n paar sinne vasgevat nie,” beaam
Dirk Mudge, die bonkige boer en oudpolitikus van Namibië.
Mudge se dae as DTA-leier lê ver agter hom, die onstuimige tyd toe hy
die onafhanklikwording van sy dorre land aan sy kiesers probeer verkoop
het, toe sy mense die stoele op mekaar stukkend geslaan het. Maklik was
dit nie. Hy het steeds vrae vir Pik. En vrae oor Pik. “Net wanneer jy dink
jy het hom, glip hy weer uit!” sê hy. Maar dan, oorwoë: “Pik is intelligent,
skerp, dink op sy voete en is ’n formidabele onderhandelaar.”
“Die Pikkewyn?” Dis Thomas Langley aan die woord.
“Tel jou woorde!” keer sy vrou vinnig.
“Pik Botha is géén onderhandelaar nie.”
Jare lank was hulle opponente – die Minister van Buitelandse Sake en
Langley as die opposisiewoordvoerder oor dié portefeulje. Meer as opponente
ook. “Hy kan nie punt vir punt debatteer nie,” verklaar Langley. “In
so ’n situasie is hy baie vinnig in ’n hoek.”
Aartsbiskop Desmond Tutu, die geestelike in die pers gewaad, lig ’n
wenkbrou tot bokant sy bril en vryf sy hande. “Ek was teenoor hom in ’n
TV-debat. Hy het nogal ’n … prysenswaardige … taak vermag in sy verdediging
van die onverdedigbare, naamlik apartheid!”
TV was nog altyd Pik Botha se kos. Iemand wat dit sal weet, is Cliff
Saunders, ná byna daaglikse onderhoude met Pik. “Die moeilikheid met
Pik Botha is: As jy die man een maal ontmoet het, is hy moeilik om te
vergeet. Al wens jy jy kon.”&sup6; Daaroor sal min mense stry. “Wanneer hy ’n
vertrek binnekom om ’n toespraak te maak – met daardie krom skouers,
die oë starend voor hom en sy ‘ek’s-hier-vir-besigheid’-houding, sak ’n stille
afwagting dadelik op almal neer.” Hy vermoed dat Pik nie net op sy voete
dink nie, maar ewe goed as hy op sy kop sou staan “en boonop die gehoor
oorreed om sy voorbeeld te volg!”
Dit was asof Pik Botha met die portefeulje van buitelandse sake in sy
hande gebore is, en van plan was om dit geslagte lank te behou, sê Leo
Tindemans, die eertydse Belgiese premier.&sup8;
Nes Langley, het Alf Ries Pik in hulle studentejare leer ken. “Hy toor
met mense,” sê dié deurwinterde joernalis en voormalige politieke redakteur
van Die Burger. Dalk is dit ’n vereiste vir ’n suksesvolle politikus.

“En net wanneer jy besluit jy wil niks verder met hom te doen hê nie,”
voeg Mudge by, “slaag hy daarin om jou met sy besondere charisma weer
nader te trek.”
Pik was gereeld in die sop. Dis veral sy verklaring dat hy nie vir ’n apartheidsbordjie
op ’n hysbak sou sterf nie, en die voorspelling dat Suid-Afrika
nog ’n swart president sou kry, wat steeds eggo.
Hy het die einde van apartheid werklik bevorder, sê die bekende hotelmagnaat,
Sol Kerzner. Hy was die enigste minister wat gesê het hy sal onder
’n swart eerste minister of president dien.”
Biskop Lekganyane, hoof van die Zion Christian Church, onthou hoeveel
woede dié opmerking ontketen het. “Hy was nooit daardeur aangetas
of geïnhibeer nie.” Hy glo Pik sal altyd onthou word om sy taaiheid en die
geloofwaardigheid van sy interaksie met die kerk.
Oudpresident F.W. de Klerk gee toe: “Hy was ’n wegbereider en ’n
sleutelfiguur in die aanloop tot 2 Februarie 1990. En De Klerk se voorganger,
P.W. Botha, wat eens gesê het Suid-Afrika weet nie wat hy aan Pik
Botha te danke het nie? “No comment.”
Mudge reken Pik het die kuns van politieke oorlewing goed bemeester.
Hoe anders word mens die langs dienende minister van buitelandse
sake ter wêreld? Dis hiervoor wat die wêreld hom onthou.
“Ons het hom beskou as ’n realis, ’n man wat in voeling is met die feite,
een met die vermoë om die groot prentjie dadelik te snap,” sê Crocker.
Sy landgenoot, dr. Henry Kissinger, gewese Amerikaanse Minister van Buitelandse
Sake, eer Pik as “’n man van formaat.” Party mense sê Kissinger
was Pik se rolmodel, vandat hulle mekaar ontmoet het toe Kissinger meerderheidsregering
in Rhodesië teweeg wou bring. “Pik is vurig, intelligent
en diskreet en …”
“… geen groot staatsman nie,” gooi Malcolm Rifkind wal in sy wel luidende
Queen’s English. Hy was Pik se Britse eweknie. “Maar ’n indrukwekkende
professionalis wat sy land in ’n buitengewone tyd goed gedien het.”
Die voormalige Sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, dr. Boutros
Boutros-Ghali, meen Pik se bydrae het Suid-Afrika ’n groot rolspeler op
die Afrika-toneel gemaak. “Ek was nog altyd beïndruk deur sy eerlikheid,
moed en politieke wil om die verskillende probleme aan te spreek wat sy
land beleef het.”
“Een van die beste maatstawwe vir ’n leier,” gee Chester Crocker toe,
“is die kwaliteit van die mense rondom hom. Pik Botha is bygestaan deur
’n reeks hoogs bekwame, skerpsinnige luitenante en assistente.”

Hulle was bekend as “Pik se mafia”. Op die voorpos daarvan was dr.
Brand Fourie, Pik se eerste baas met sy wellewende, beskeie houding, en
Neil van Heerden, die gepoleerde diplomaat met die onleesbare uitdrukking.
Ander name, soos dié van die presiese Herbert Beukes en Riaan
Eksteen word ook tot die mafia gereken. Dan is daar die mediamanne
Awie Marais en later Roland Darroll. In dié groepie staan ’n man met ’n
yl, rooierige kuif uit: Vic Zazeraj, onverstoorbaar en korrek, praat die keurigste
Afrikaans en Engels met ’n sweem van ’n vreemde aksent. Jare lank
was hy Pik se regterhand. Dalk weet hy die meeste.
Dis ook Langley se argument – die bekwame personeel. “Die meeste
werk is deur sy amptenare gedoen. Hy was net sporadies betrokke.”
“Min mense is so hardwerkend as hy,” tree Crocker in die bres, al het
hy in sy boek ook ander goed oor Pik Botha geskryf. “Hy was absoluut
opgewasse vir party senior Kubaanse amptenare.” Hieroor sou die Amerikaner
lank kon gesels. “En hy het – ondanks al die ompaaie, uitdraaipaaie,
strikke en maneuvers – die belangrikheid daarvan besef dat die werk gedoen
moet word terwyl daar nog tyd is.”
Daar kom selfs ’n pluimpie van dr. Hans-Dietrich Genscher, Pik se eertydse
Duitse ampsgenoot. Tussen hom en Pik was heelwat ongemak en persoonlikheidsbotsings.
“Ondanks al ons politieke verskille het ek Pik Botha
altyd waardeer as ’n betroubare en ernstige vennoot in ons gesprekke.”
“Ernstig?” Iemand lag. “Pik?” Genl. Magnus Malan, toentertyd die Minister
van Verdediging, vertel van die goed wat Pik op bosberade aangevang
het, die gruwelike poetse.
’n Kunstenaar, sê iemand anders. ’n Skrywer en digter. ’n Filosoof en
romantikus. Hy kan ewe swartgallig ook wees. Bowenal, reken Darroll, is
Pik Botha ’n stel teenstrydighede.
Neil van Heerden maan dat mens Pik moet verstaan as hy in een van
sy donker buie is. “Pik hou daarvan om party keer ’n swart baadjie aan te
trek. Jy sal dink dis al amper tyd vir begrafnis. Maar dan staan hy terug,
bekyk homself in die spieël en dink: Ek lyk nogal mooi met hierdie swart
baadjie …”
“Ek bedoel dit in die beste sin van die woord,” sê Pik se vriend Danie
Hough, vroeër Administrateur-generaal van Suidwes. “Tot ’n mate is hy ’n
toneelspeler. Hy kan ’n gehoor lees, ’n situasie opsom en dan met lyftaal,
teatrale gebare en stemtoon mense aan sy kant kry.”
Genl. Hein du Toit, eens Hoof van Militêre Intelligensie, ken Pik
Botha as “’n verskriklike aandagsoeker en heeltemal onbetroubaar.”
“’n Showman!” Weer Langley.

“Maar hy wil alleen die rostrum hê. Hy wou nog altyd al die tyd vat wat
beskikbaar is. Dan is daar geen geleentheid vir debat nie.”
“’n Grootbek,” byt Du Toit, “met min om die lyf! Hy kan nie ophou praat
nie … en het geweldige skade aan ons buitelandse beleid aangerig.”
Magnus Malan glimlag effentjies. “Pik soek center stage. Hy wil die
bruid op elke troue wees, en die lyk op elke begrafnis.”
Darroll sou dit nie heeltemal só stel nie. “Maar dan, kan mens jou
voorstel dat enigiemand anders die middelpunt van die aandag kan wees
as Pik in die geselskap is?”
Daar was ’n tyd toe hy die liefling van die volk was, toe hulle hom as
staatshoof wou hê. Sou Pik dit kon doen?
Natuurlik, meen ’n paar.
F.W. de Klerk sê nee: “Ek was oortuig dat hy nie oor die eienskappe
– insluitend emosionele stabiliteit – beskik het om die land te lei nie.”
“Sy selfversekerde en handhawende persoonlikheid, sy bereidwilligheid
om sosiaal met sy gespreksgenote te verkeer, en sy opregte pogings om hulle
kulturele beweegredes te verstaan, was gewaardeerde eienskappe,” meen
Roger Ballard-Tremeer, ’n jare lange amptenaar van Buitelandse Sake. “Dit
het hom die soort invloed gegee wat ander nie gehad nie. Sy uitstekende
verhoudingsbestuur was ’n rede waarom hy die langsdienende buitelandse
minister van sy tyd was. In die Angolese konteks het dit hom in staat gestel
om spelers op die heel hoogste vlakke te bereik en te beïnvloed.”
Dis Pik se eie skuld dat hy nie President geword het nie, verwyt Barend
du Plessis, wat destyds Suid-Afrika se geldsak gedra het. Pik het g’n aandag
aan die manne in die koukus gegee nie. Sy vriende het hom gewaarsku.
Maar hy wou nie hoor nie.
“As enigiets Pik se invloed beperk het, was dit sy onvermoë om sy alkoholverbruik
te beheer en sy verhouding met party vroue,” meen Ballard-
Tremeer. “Dit was swakhede wat die respek vir hom soms ernstig ondermyn
het – iets wat so dikwels die kritiese suksesfaktor was in sy interaksie
met die slagordes politici en amptenare wat betrokke was by die vredesproses
in Angola.”
“Ek het hom nog nooit buite beheer gesien nie,” verdedig Darroll. Hy het
baie saam met Pik gekuier. “Demmit, die man is gebou soos ’n bees. Hy kon
dit vat! En in baie opsigte was hy skitterend wanneer hy op dreef was.”
Oor min politici is daar erger geskinder. Briefskrywers in koerante het
Pik Botha al ’n verraaier genoem, ’n leuenaar, manteldraaier, opportunis.
Gooi hom tog op die ashoop van vergetelheid, het een gevra.
Dalk kan dit nie anders nie.

“Dis mos altyd só met bekendes,” verduidelik Helena Theart, sy jare
lange assistent, wat die minister glo met haar lewe sou beskerm. “Daar is
altyd stories oor hulle.”
Wat is die waarheid oor enigeen? Wat is stories? Waar loop die werklikheid
dood en wanneer begin die mite leef?
“Vreemd genoeg,” merk Darroll op, “van die eienskappe waarvoor
mense hom verwyt, is dieselfde wat my lief maak vir hom.”
“Met Pik Botha,” besluit Awie Marais, “is daar geen middeweg nie. “Jy
is mal oor hom. Of jy kan hom nie verdra nie.”
“’n Gewaardeerde vriend,” volstaan Kissinger. Langley is ewe beslis:
“Ek en daardie man sit nie langs dieselfde vuur nie.”
“Ek’s mal oor hom!” sê Saunders.
Danie Hough het baie nagte om vure met hom deurgebring. “Pik is die
lojaalste mens. Ek kan hom net lof toedig.”
Sol Kerzner stem saam. Vir hom is Pik Botha ’n groot vriend. “Hy het
nog altyd tyd gemaak om my te spreek oor verskeie dinge en het baie gedoen
om my te help om party probleme op te los.”
Prins Mangosuthu Buthelezi sê hy het Pik Botha nog altyd gerespek –
teer. “Selfs in die donker dae van apartheid het hy sy diplomatieke vernuf
gebruik om vriendskappe met party staatshoofde te sluit. Ek weet koning
Sobhuza II van Swaziland het mnr. Botha as ’n vriend beskou.”
“Hy is ’n aangename mens,” oordeel die aartsbiskop en Nobelpryswenner.
“Warm en menslik – vanweë sy gawes, maar ook sy swakhede.”
Vic Zazeraj het die minister nog altyd geken as “’n maverick, ’n jukskeibreker.
Stroom op.”
“Eintlik is hy skugter,” glo Van Heerden.
“’n Introvert,” beaam Barend du Plessis. “Al sal min mense dit glo.”
Hermann Giliomee vind Pik “eintlik ’n historikus se droom, met sy
uitstekende geheue en dramatiese flair en gewone menslikheid.”
Die vrou van ’n eertydse diplomaat dink lank, en besluit mymerend,
sag: “Pik is so menslik. Hy is so baie soos ons. Maar ’n veel groter weergawe,
’n glansryker en stouter een op die groot doek.”
“Pik is magic,” sê Alf Ries.
“Daar sal nie weer ’n Pik Botha in Suid-Afrika wees nie,” verklaar Awie
Marais. “Daar kan nie. Nooit weer nie.” Vic Zazeraj knik.
“After God made Pik Botha, He threw the mould away.”

Praat van die duiwel – ‘n uittreksel uit Pik Botha en sy tyd, deur Theresa Papenfus.

Op soek na Pik Botha – Lees Theresa Papenfus se bydrae tot Dié Groot Debat.

Vir meer oor Pik Botha en sy tyd klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Anoniem ·

Net nog een in ‘n lang ry Afrikanerleiers wat hul eiebelang bo die belang van hul volksgenote en hul nageslag gestel het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.