Prettige seerowerstorie word interaktiewe storie-app

waarvoor is seerowers bang‘n Video oor die app volg onderaan die berig. Arrr! Almal weet daar is net mooi niks waarvoor seerowers bang is nie. Maar toe iets op die dek van haar pa se skip erger as die asem van ’n hamerkophaai begin ruik, vermoed Sanmarie daar is dalk één ding wat haar seerower-pa en sy dapper bemanning hoendervleis gee…

Hierdie rymende, skreeusnaakse seerowerstorie is ’n opwindende eerste – dit is die eerste oorspronklike Afrikaanse prenteboek wat tot ’n interaktiewe storie-app verwerk is.

Die heerlike storie deur die bekroonde skrywer-illustreerder-span Jaco Jacobs en Chris Venter kry lewe op jou iPad – danksy innoverende animasie, prettige musiek en hope interaktiewe elemente. Kies tussen ’n selfleesopsie vir beginnerlesers, of ’n lees-en-speel-opsie waarin jy kaptein Kalamari, sy bemanning en die avontuurlustige skeepsmuise speel-speel kan geniet, met ekstra dialoog, animasie, geluide en ’n legkaartspeletjie.

Hierdie is die tweede interaktiewe storieboek-app in Afrikaans uit die stal van LAPA Uitgewers en die ontwikkelaar Full Circle. Die eerste, Die drie varkies, was ook ’n baanbreker in Afrikaans en het wyd lof ingepalm van ouers en resensente. Met die iPad wat wêreldwyd ’n toenemend gewilde leesplatform word, is daar tans ’n groot tekort aan Afrikaanse materiaal vir kinders. Met Waarvoor is seerowers bang? bewys LAPA weer eens dat hy op die voorpunt van innovering in die plaaslike kinderboekmark is. Die oorspronklike prenteboek is met die ATKV-Woordveertjie vir beste teks sowel as beste illustrasies bekroon.

Waarvoor is seerowers bang? is op Apple se iStore beskikbaar. ’n Weergawe vir Android-toestelle sal in die nabye toekoms vrygestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.