Prince Albert Leesfees bekyk die wêreld met nuwe oë

Foto: Verskaf

Die Prince Albert Leesfees word vanjaar vir die agtste agtereenvolgende jaar aangebied. Dié fees het die eerste keer in 2012 plaasgevind toe dit as deel van Prince Albert se 250ste verjaardagviering georganiseer is.

Dit vind vanaf 1 tot 3 November in die Jans Rautenbach Schouwburg plaas en bied hoofsaaklik boekbesprekings en -gesprekke aan feesgangers.

Vanjaar se program fokus op aardverwarming en die impak van klimaatsverandering wêreldwyd. Daar word veral gekyk na die verwoestende brande in Brasilië, vloede in Indo-China en voortslepende droogte in die Karoo. Die oorhoofse tema van die fees “Kyk met nuwe oë” daag feesgangers uit om bewus te word van hul omgewing.

Buiten ernstige kwessies wat onder die soeklig geplaas word, bied die program ook ligter vermaak aan. Daar word onder meer slypskole oor die skryf van kinderboeke aangebied, sowel as boekbesprekings met gevestigde skrywers soos Karina M Szczurek en Dana Snyman. Verskeie debuutskrywers en -digters soos Azille Coetzee, Olivia Coetzee en Pieter Hugo, vorm ook deel van die program.

Feesgangers wat tussendeur wil asemskep, het ʼn keuse tussen allerlei aktiwiteite en toeriste-aantreklikhede wat in die nabye omgewing geleë is. Dit sluit bergfietsritte in die Swartberge, ʼn besoek aan die Prince Albert-kunsgalery en begeleide toere deur die “O for Olive”-olyfplaas in.

Lazy Lizard se opwip-eetplek sal die heel naweek van vroegoggend tot laataand op die terrein oop wees en Bargain Books Garden Route Mall se boekwinkel sal alle Leesfees-boeke te koop aanbied.

Vir meer inligting oor die program of kaartjieverkope besoek die webwerf Prince Albert Leesfees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae