Prinses Talia en die Draak

Helen Brain en Vian Oelofsen

Dit is die storie van hoe prinses Talia haar pa se koninkryk van ‘n kwaai draak red. Die draak het op die paleis se dak beland en weier om weg te gaan. Die mense van die dorp is baie bang en die koning probeer alles in sy mag om van die draak ontslae te raak, maar dis verniet – hy verroer nie ‘n poot nie en word al hoe kwaaier. Prinses Talia is nie bang nie, sy gaan praat met hom en hy erken dat hy eintlik nie so kwaai is nie, maar dat hy nie kan sien waar hy vlieg nie. Sy leen vir hom haar brilletjie en hy kan uiteindelik wegvlieg. Prinses Talia is almal se heldin en al die dogtertjies in haar balletklas, wat haar voorheen gespot het, wil ook nou ‘n brilletjie dra.

Geskryf in ‘n ligte, vrolike trant vol pret en humor. Dit is gemik op eerste lesers en geïllustreer in volkleur.
Lekker-lees eerste leesboek en voorleesboek vir beginnerlesers.

Daar word ten minste drie boeke in die Prinses Talia-reeks beplan.

Oor die Outeurs:
Helen Brain het al verskeie publikasies die lig laat sien, waaronder: Who’s Afraid of Spiders, My hart klop muffins, Kry vir jou ‘n vlieëkoekie en ander krakerige stories en Len en Ben en die groot seerowerredding, e.a. Afgesien daarvan dat sy gereeld in tydskrifte en koerante artikels en resensies oor kinderboeke skryf, het sy ook ‘n webwerf waarop sy aan aspirant skrywers wenke en ander inligting gee. Helen woon in Mowbray.

Vian Oelofsen is ‘n voltydse kinderboekskrywer en -illustreerder wat in Brighton, Engeland, woon. Sy werk verskyn plaaslik sowel as oorsee in tydskrifte en koerante en hy het al nagenoeg 20 prenteboeke vir kinders geïllustreer.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R99-95*
*Prys onderhewig aan verandering

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.