Proe Pretville

Leana Pool

Pretville is nie ‘n dorp op die landkaart nie, en jou GPS sal ook tevergeefs daarna soek. Dis ‘n vyftigs-fantasie in die harte van mense, ‘n plek waar daar altyd iets is om te vier. Die musiek en dans en toneelspel is deel van die fliek Pretville en met Proe Pretville kan elkeen ‘n porsie van die geluk van daardie era in sy eie kombuis beproef.

Dis immers net op Pretville waar Pruimfees gehou word en ouma Sarie se onderstebo pruimtert elke jaar die wenlint dra. Moet egter nie waag om Roeda Regyt se verruklike vyetert ‘n skuins kyk te gee nie, hoor! Van Hennie Hakkel se spraakgebrek is daar in sy heerlike skommels geen teken nie, en Kallie Klawers se kolwyntjies sal enige vroulike mededinger se ogies laat skeeftrek van jaloesie.

Net so kleurvol, speels en humoristies soos die karakters, is die resepte in Proe Pretville ook. Dis tradisie uit die vyftigs op sy beste en dit mag nie vir die nageslag verlore gaan nie. Goed, hier en daar moes van die ou terme plek maak vir nuwes en het hedendaagse bestanddele aangedring op ‘n plekkie in die son, maar nie een van die vele gretige proeërs se smaakkliere het in die geringste in opstand gekom nie. Inteendeel.

Die meesal handgeskrewe resepte uit oumas se familieresepteboeke is wel oorgetik en hier en daar opgedollie sodat dit kan inpas by die nuwerwetse wêreld van vandag. Verlustig jou in die nostalgie van die vyftigs wanneer jy hierdie boek gebruik – geniet Proe Pretville!

Uitgewers: Lapa
Prys: R225-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.