Pryse toegeken vir kinderboekkoning

Jaco Jacobs (Foto verskaf)

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het die Scheepersprys vir Jeugliteratuur aan Jaco Jacobs toegeken vir sy boek Dinge wat ek nie van skape geweet het nie.

Dr. Dioné Prinsloo, hoof- uitvoerende beampte, het gesê die Akademie het vanjaar ook die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur aan Jaco Jacobs (skrywer) en aan Zinelda McDonald (illustreerder) toegeken vir Moenie hierdie boek eet nie!

Dié bekroonde skrywer is op Carnarvon in die Karoo gebore. Sy eerste boek, Troetelgedrog, het in 2001 by LAPA verskyn, en sedertdien het meer as 150 boeke vir kleuters, kinders en tieners uit sy pen verskyn. Twee van Jaco se boeke is al verfilm: Suurlemoen! en Oor ‘n motorfiets, ‘n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word. Hy publiseer ook verskeie verhale onder skuilname.

Dinge wat ek nie van skape geweet het nie

dinge wat ek nie van skape geweet het nieGlo my, as jy op die ingewing van die oomblik ’n skaap by ’n kerkbasaar steel, sal jou lewe nooit weer dieselfde wees nie…

Luan se vakansieplanne is in hulle peetjie. In plaas daarvan dat hy by die huis gaan rondsit, PlayStation speel en saam met sy pelle kuier, moet hy Karoo toe gaan. Op ’n road trip. Saam met sy eksentrieke fotograaf-ouma wat ’n fotoboek oor windpompe wil publiseer. Dit is sy straf omdat hy en sy vriende een aand iets aangevang het wat hulle in groot moeilikheid laat beland het.

Op pad deur die Karoo ontmoet hy vir Lana, wie se pa al die pad van Bloemfontein na Kaapstad met sy fiets ry om geld vir kankernavorsing in te samel. Lana wat nie vleis eet nie, mal is oor boeke en hom (sonder dat sy dit weet) oortuig om ’n skaap te steel.

Luan leer ken vir die eerste keer werklik sy ouma – die hardekwas-predikantsvrou wat al die jare ’n geheim saam met haar ronddra.En die belangrikste van als: Hy leer homself ken.

Kort voor lank verander ’n vervelige rit deur die Karoo in ’n onvergeetlike reis …

Hierdie humoristiese, hartroerende tienerboek uit die pen van Jaco Jacobs sal jou anders laat kyk na die dinge wat die lewe die moeite werd maak.

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Moenie hierdie boek eet nie!

Wat soek ‘n haai in die skool se swembad?
Hoe lank is ‘n weerwolf se humeur?
Is enige iets erger as skottelgoed was?
Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder?
Is ‘n draak die perfekte troeteldier?
Wat soek jou ouma op die Pick n Pay se dak?
Hoekom dra bere nie klere nie?
Wat sou gebeur het as die maan ‘n pizza was?
Waarom is daar so min rympies oor erdvarke?
Bestaan daar iets soos ‘n spaghettiboom?
Wat moet jy doen as ‘n renoster jou jaag?
Hoe klink die perfekte monsterbrul?
Wat eet Dracula vir nagereg?
Kan jy jou eie elmboog lek?

Jy sal die antwoorde op al hierdie vrae in dié lawwe lekkerlagboek vind. Moenie hierdie boek eet nie! bevat 365 rympies (en ‘n bonusrympie vir ‘n skrikkeljaar) wat kinders (én grootmense!) heeljaar sal laat skaterlag!

Daar’s rympies oor oupas en oumas, goggas, krieket, ruimtevaarders, seerowers, spoke, skooltoilette, erdvarke, Kersvader, krokodille, volstruismelk, Valentynsdag, en dinge wat baie sleg ruik … Daar’s lawwe limerieke, heerlike haikoes en tawwe tongknopers!

Jaco Jacobs se grootste en snaaksste rympiebundel ooit is ‘n moet-hê-boek vir elke kind se boekrak!

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronel ·

My jongste seun is absoluut versot op Jaco Jacobs se boeke. Meer spesifiek Professor Fungis boekies. Hy was onlangs by ‘n laerskool in Kroonstad en my seuns het al die boekies gevat sodat Jaco dit kon teken.

Esté Meyer Jansen ·

Dinge wat ek nie van skape geweet het nie is een van die mooiste boeke wat ek in 2018 gelees het. Ek kan nie wag vir seuntjie om oud genoeg te wees om dié boek te lees nie. As Jaco dit geskryf het, kan jy maar weet die kinders sal dit geniet!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.