Reënboog as verbondsteken

Hiermee die artikel oor Bybelse verbonde wat in Die Profesie Bybel – Nuwe Testament verskyn.

God het onteenseglik die volgende ses verbonde gesluit.

Die verbond met Noag: Ná die vloed belowe God onvoorwaardelik aan Noag en sy nageslag dat “alle vlees” nooit weer deur vloedwaters uitgeroei sal word nie en dat daar nie weer ʼn vloed sal wees om die aarde te verdelg nie (Gen 9:11). God bevestig die verbond met ʼn eed; die verbondsteken is die reënboog (Gen 9:11, 13; Jes 54:9). Dié verbond is steeds van krag, word letterlik verstaan, en dien as die natuurlike grondslag vir latere verbonde.

Die verbond met Abraham: Die verbond met Abraham is bepalend vir die uitwerking van God se plan vir Israel en die nasies. Dit is ʼn sleutel tot eskatologie. Die verbond met Abraham is ʼn koninklike toekenningsverbond, onvoorwaardelik, gewaarborg deur God se eed, en het die besnydenis as teken (Gen 15:8-18; 17:9-14; Heb 6:13-17). Later bevestig God die Abrahamitiese verbond met Isak, Jakob en Jakob se twaalf seuns (Gen 26:2-5; 28:13-15; 49). Ten minste vyftien spesifieke beloftes van God aan Abraham kan in die verbond geïdentifiseer word. Om op te som, God belowe: (1) Seën wat in en deur die “saad” uit Abraham se nageslag sal vloei (Gen 22:18; vgl Gal 3:8). In en deur Christus sal al die nasies van die aarde geseën word (vgl Hand 3:25); (2) ʼn Spesifieke nageslag waaruit die uiteindelike koning sal voortkom (vgl Gen 17:6). Die Seun van Dawid sal dié belofte deur die Dawidiese verbond vervul (2 Sam 7:8-17); en (3) ʼn Land: Christus sal toesien dat die patriarge en die gelowige oorblyfsel van Israel die land permanent kry (Gen 15:18-21).

Die Mosaïese verbond: God sluit die voorwaardelike Mosaïese verbond met Israel (Eks 19-24). Ingevolge dié verbond sal Israel geseën word mits hulle al seshonderd-en-dertien bepalings van die wet nakom, anders sal sekere vloeke hulle tref. God is op soek na ʼn gelowige geslag Israeliete wat in die Here glo sodat die volheid van die geestelike en fisiese seëninge van die Abrahamitiese verbond (en later ook ander verbonde) ervaar en geniet kan word. Vir dít om te gebeur moet ʼn geslag Jode hul bekeer en in die Christus glo (Lev 26:40-45; Deut 4:25-31; 30:1-6; vgl Eseg 36:22-30; Sag 12:10-13:1). Deur die Abrahamitiese verbond vestig God ʼn permanente, nasionale verhouding met die nageslag van Abraham, Isak en Jakob en die twaalf stamme van Israel. Die “verbonde” behoort nog steeds aan Paulus se “volksgenote na die liggaam” (Rom 9:3-5). Israel sal nie hul posisie as God se uitverkore volk verloor nie, want die onvoorwaardelike verbondsbeloftes staan vas (Rom 11:28-29). Israeliete word egter nie individueel gered net omdat hulle biologiese afstammelinge van Jakob is nie; persoonlike geloof is nodig (vgl Matt 3:7-10). Israeliete wat nie die evangelie glo nie, sal individueel hul bevoorregte posisie vir ewig verloor en saam met alle ongelowiges van alle tye in die vuurpoel beland. Nogtans bly Israel die uitverkore volk van God (Jer 31:35-37; Rom 11).

Die verbond met Pinehas: God beloon Pinehas en sy nageslag met ʼn onvoorwaardelike koninklike toekenningsverbond, ʼn “verbond van ewige priesterskap” (Num 25:10-13). 1 Kronieke 6:50-53 en Esegiël 44:15 en 48:11 vestig die aandag op een van Pinehas se afstammelinge, naamlik Sadok. Tydens die millennium sal Pinehas en sy nageslag, veral uit die lyn van Sadok, as priesters in ʼn tempel van die Here diens verrig (vgl Eseg 40-48).

Die verbond met Dawid: God skenk aan Dawid ʼn onvoorwaardelike koninklike toekenningsverbond en bevestig dit met ʼn eed (2 Sam 7:8-16; 1 Kron 17:10-14; Ps 89:4). Dawid word ʼn ewige koningshuis, troon, en koninkryk belowe. Die ewigdurendheid van hierdie beloftes is gewaarborg omdat die nageslag van Dawid ʼn hoogtepunt bereik in Een wat self ewig is, naamlik die Here Jesus Christus. Vir die Messiaanse koninkryk om op aarde gevestig te word, móét ʼn geslag Jode hul bekeer en Christus in geloof aanvaar (Deut 17:15). Uiteindelik sal hierdie vereiste nagekom word wanneer ʼn Joodse geslag sal uitroep: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here” (Matt 23:39; vgl Hand 3:19-21).

Die nuwe verbond: Jeremia 31:31-33 sê dat die nuwe verbond nie ʼn hernude Mosaïese verbond sal wees nie, maar ʼn splinternuwe onvoorwaardelike verbond. Die nuwe verbond belowe genade, vrede, die inwoning van die Heilige Gees, verlossing, die verwydering van sonde, ʼn nuwe hart en ʼn verhouding met God. Ingevolge die nuwe verbond gee God sy wet in mense se binneste en skryf dit op hulle harte (Jer 31:33; vgl Eseg 37:26-28; 2 Kor 3:3-6).

Die Skrif verbind Christus met die nuwe verbond (Jes 42:6; 49:8). Gedurende sy eerste koms vervul Jesus Christus die geestelike seëninge wat in die verbond met Abraham en in die nuwe verbond belowe is. Met sy bloed aan die kruis bekragtig Jesus die nuwe verbond (Matt 26:28; 1 Kor 11:25). Christus is die hoeksteen van die Kerk; in Hom ontvang gelowiges elke geestelike seëning in die hemel (Ef 1:3; 2:20). Nie-Joodse lede van die Kerk is deelgenote aan die belofte in Christus Jesus (Ef 3:6). Die nuwe verbond bevat die wet van Christus; Nuwe-Testamentiese gelowiges leef onder die wet van Christus (Rom 8:2; 1 Kor 9:21; Gal 6:2). Deur in Christus te glo deel ʼn mens in die geestelike seëninge van die verbonde.

Die nuwe verbond veroorsaak nie ʼn “vergeesteliking” van niegeestelike verbondsbeloftes en profesieë nie. Verbonde en verbondspartye kan nie verander nie. Die spesifieke land wat aan Abraham, Isak en Jakob belowe is, verander nie in die Nuwe Testament na die “hemel” of die “nuwe aarde” nie (vgl Gen 15:18-21). Die Kerk was ʼn geheimenis in die Ou Testament; die Kerk is nie Israel nie en vervang haar ook nie (vgl Rom 11:1-2, 11, 25-27; Ef 3:1-6). Tydens die eerste koms, onder die aanhitsing van die godsdienstige leiers, het ʼn geslag Jode die Here Jesus Christus verwerp (vgl Matt 12:23-32; 23:13, 37-38). Ten tyde van die tweede koms sal ʼn gelowige oorblyfsel van Israel in Christus glo en dan sal die nuwe verbond met Israel gesluit word (Jes 59:20-21; Rom 11:25-27). In die eskatologiese dag van die Here sal Christus toesien dat ál die steeds-onvervulde beloftes en profesieë (en nie net geestelike beloftes nie) vervul word aan diegene vir wie dit belowe is.

***

Die artikel is goedgunstig deur Lapa Uitgewers, ʼn druknaam van Penguin Random House, verskaf. Die Profesie Bybel – Nuwe Testament kos R350 (prys onderworpe aan verandering). Bestel die boek aanlyn by Graffiti Boeke of CUM Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.