Regspraktisyn maak debuut as jeugskrywer

(Foto: nb.co.za)

Wim Vermaak se lewe mag dalk holderstebolder wees, maar William Oosthuizen, skrywer van die jeugroman Die lewe volgens Wim Vermaak, erken dat hy meer soos Wim se advokaat-pa in ʼn wêreld vol reëls leef.

Die verhaal gaan oor Wim se stryd om sy lewe op koers te kry. Hy is op die punt om graad nege te dop omdat sy aandag in die LO-klas afgetrek word deur die nuwe meisie met die vlegsels. Wim se tweelingsussie, Maddie, wil opsluit deel word van Mars One se sending na Mars. Dit veroorsaak vir hom selfs meer probleme wanneer sy van die dak afval en haar enkel breek omdat sy wou sterre kyk. Hul verstrooide ouma Hantie val vir ‘n internetslenter en nou moet Wim boonop oppasser speel. Dan is daar Harold, sy ma wat kuns doseer se menslike geraamte, wat die studente in opstand bring en konflik tussen sy ouers saai. Wim hoop dat sy LO-taak weer die orde in sy lewe sal herstel.

“Eintlik sou ek graag meer soos Maddie wou wees,” verklap Oosthuizen. “Van kleintyd af het ek boeke verorber en sou graag dat my verbeelding en avontuurlus so ver soos Mars strek, soos Maddie s’n.”

Hy meen dat die boeke van Jules Verne, skrywer van Na die middelpunt van die aarde (1864) en Die reis om die wêreld in 80 dae (1873), en Robert Louis Stevenson, wat Die Vreemde Geval van Dr. Jekyll en Mnr. Hyde in 1886 geskryf het, verpligte leesstof op skole moet wees om jong mense se verbeeldings te prikkel en hulle op ontdekkingsreise te stuur.

Oosthuizen is ʼn regspraktisyn wat in Kaapstad woon. Hy bestee sy tyd naure aan sy skryfwerk en erken dat hy slegs ʼn voltydse skryfloopbaan sal oorweeg as dit beteken dat hy slegs twee tot drie uur per dag skryf.

“As ek die res van die tyd kan lees of skaak speel of rondloop met my kamera, sal dit my perfek pas,” skerts hy.

Met Die lewe volgens Wim Vermaak maak Oosthuizen sy debuut as jeugskrywer. Hy het reeds ʼn aantal kortverhale, radiodramas en verhoogtekste geskryf. Van sy reisverhale en foto’s het voorheen in Weg!/Go! verskyn en verskeie van sy radioverhale word op RSG uitgesaai. Oosthuizen het in 2012 RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie gewen met “Ons gaan huis toe”. Sy debuutroman, Die dame met die hondjie, het in 2019 verskyn.

Het Oosthuizen dalk ʼn voorkeur, sou ʼn mens wonder?

“Beslis die dramagenre,” sê hy. “Van my jeugdae af, toe ’n vriend se ma ons saamgesleep het na ’n amateurverhoogopvoering, het ek ʼn liefde vir teater gekoester. Ek was hooked en die magiese daarvan het nog nooit vervaag nie.”

Die radiomedium lê hom ook na aan die hart, waarskynlik omdat hy daarmee grootgeword het.

“Radioteater was (en is steeds) die heel beste vorm van ontsnapping, waar jy in die donker kan sit en meegevoer raak deur ’n goeie storie.”

Dit is een ding om ʼn genre as vorm van vermaak te waardeer, maar om self te skryf is intens. Oosthuizen meen sy idees moet kans gegee word om te broei en te groei.

“Ek hou daarvan dat karakters in hul eie rigtings begin beweeg nadat ek idees in hulle koppe geplaas het, en dan is dit my werk om hulle dop te hou en af en toe nog ’n klip of twee in hulle paaie te rol.”

ʼn Spanningsvolle storielyn en interessante karakters is ook van kardinale belang vir ʼn jeugroman, sê Oosthuizen.

“Om vir die jeug te skryf verg nogal dat jy pretensies oorboord gooi. Mooi taalgebruik en beeldspraak gaan jou nêrens bring as die storie nie boeiend is nie.”

Hy skryf om te vermaak en fokus deurgaans op twee elemente wat jare gelede geïdentifiseer is deur John Steinbeck, ‘n Amerikaanse skrywer wie se werk in 1962 met die Nobelprys vir Letterkunde bekroon is.

Steinbeck het gesê die kern van ʼn goeie storie is wanneer lesers verras en opgewek word.

“As ek dít kan regkry – en ek hoop ek het dit tot ’n mate in Wim Vermaak se storie reggekry – is ek tevrede,” sê Oosthuizen.

Tydens die skryfproses van sy jeugroman het Oosthuizen probeer om in sy eie tienerverbeelding van ouds te leef. Hy wou uitwerk hoe sy hoofkarakter uitdagings sou oplos, maar het gou besef dat Wim sy eie stem het.

“Wim het sy eie stem gekry en dinge op sy manier gedoen. Dit het my weereens laat besef dat jy nooit jouself in ’n storie moet laat geld nie. Die karakters moet hulle eie gang gaan,” vertel hy.

Oosthuizen lees gereeld Afrikaanse jeugliteratuur. Hy sê dit is opmerklik hoe plaaslike skrywers ook nuwe benaderinge begin volg en met kontroversiële temas eksperimenteer.

Derrick van der Walt se Willem Poprok is vir hom die hoogtepunt van Afrikaanse jeugboeke. Hy het onlangs ook As mens Geluk kon Proe deur Zelda Bezuidenhout gelees en dit baie geniet.

Die lewe volgens Wim Vermaak bring ook sulke temas na die voorgrond – studenteproteste en menseregte – wat deel is van hulle lewensondervinding.”

Nog ʼn interessante aspek van Oosthuizen se verhaal is die verpersoonliking van ʼn geraamte wat hy Harold noem.

“Harold, as karakter, bring intrige, verdeeldheid en heling na die verhaal. Ek was nogal verbaas hoe ’n karakter sonder ’n spreekbeurt of ’n stem soveel invloed op gebeure kon uitoefen,” verduidelik Oosthuizen.

“Vir my is Harold die spreekwoordelike karakter wat in omstandighede vasgevang word waarin hy geen betrokkenheid het nie. Ons almal kan daarmee identifiseer, want elkeen van ons beland een of ander tyd in so ʼn situasie.”

Oosthuizen wonder nog oor die toekoms van sy karakters en of daar ʼn opvolgverhaal sal wees. Hy is op die oomblik besig met ʼn draaiboek, maar sluit nie toekomstige moontlikhede, soos ʼn rolprentverwerking, uit nie.

  • Die lewe volgens Wim Vermaak word deur NB-Uitgewers uitgegee. Besoek die uitgewer se webwerfvir meer inligting oor dié boek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae