Resensie: As’t ware: Hengelkluitjies in Vissous

As't WareHierdie resensie deur Heinrich Schulze is op 28 en 31 Mei op RSG Sport uitgesaai en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

As kind op die platteland het ek ‘n groot hoeveelheid persone geken wat gereeld ‘n lyntjie gaan natmaak het. Miskien is dit omdat ek die afgelope 31 jaar in ‘n stad woon dat ek nie meer soveel hengelaars in my midde het nie.

In die inleiding tot die boek wat baie gepas, die “ingooi” genoem word, word vertel dat 2.5 miljoen hengelaars in 2007 in Suid-Afrika aan sport- en ontspanningshengel deelgeneem het, wat dit die grootse buitelugaktiwiteit in die land maak.

Deel 1 van As’t ware: Hengelkluitjies in Vissous bestaan uit ‘n aantal kostelike, meestal nostalgiese vertellinge van die skrywer se visvang- of hengelwedervaringe, van sy jare as skoolseun langs die viswaters, immer saam met sy hond en dikwels ook saam met sy vriend en dié se hond.

In Deel 2 van hierdie boek word die hengelgedeelte van visvang aangeraak en word talle nuttige wenke onder verskillende hofies met die leser gedeel. Tragies, en eie aan ons tyd, is daar ook ‘n hoofstuk oor veiligheid langs die viswaters.

Enkele van die gedeeltes van die boek het oorspronklik in ‘n bekende Suid-Afrikaanse hengeltydskrif verskyn en vir diegene wat dit nog nie daar gelees het nie, sal die plesier nou groot wees om dit hier vir die eerste keer te lees. Lesers sal veral bekoor wees met die gemaklike trant en kleurryke woordeskat waarmee die wêreld van kerriepap, poeliesmanne, voerkolle en katrolle mee omgegaan word.

Van der Westhuizen se verteltrant is Afrikaanse hengeltaal en hengelverhale op sy allerbeste en alle kleurvolste. In die hoofstuk getitled: “Papgooi-tipes om te vermy” word ‘n tiental kategorieë van vissermanne benoem en beskryf wat mens liefs moet vermy: die bedelaar; ou sukkel-sukkel; ou wysneus; die pronker; die nar; die afklimmer; die Hadida, neef skeef en ander. Dit is hengel Africana wat hier op papier vasgelê is.

Ek moet bieg dat ek glad nie ‘n gereelde lynnatmaker is nie. Om die waarheid te sê, die aantal kere wat ek dit in my eerste halfeeu gedoen het, kan ek op die vingers en tone van my eie lyf tel. Dus, visserman is ek nie, en hengelaar nog minder. Maar dat ek hierdie boek terdeë geniet het, is nie altemit nie. Dit het geen pretensies nie. Dit is dalk juis waar sy trefkrag lê. Dit sal so reg in die kraal val van beide die terloopse visserman, en die ernstige hengelaar.

Klik hier vir meer inligting oor die boek.
Uitgewer: Kejafa Knowledge Works
Prys: R140-00*
*prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.