Resensie: Daar is plek vir Afrikaaps!

Deur William Sezoe

Ja, daar is beslis plek vir Afrikaaps. Nou, vir dié wat nie weet nie, Afrikaaps is ʼn variëteit van Afrikaans wat met trots onder die mense op die Kaapse Vlakte gepraat word. Vir jare al sukkel hierdie mense om erkenning te kry vir die tipe Afrikaans wat hulle praat en voel soms minderwaardig teenoor dié wat ʼn bietjie meer Standaard Afrikaans praat. Selde die mense wat ook Nama-Afrikaans in die Noord-Kaap praat. Hulle voel uitgesluit by ʼn taal wat veronderstel is om almal te erken, vier en te akkommodeer.

Die goeie nuus het egter vir sprekers aan die Kaapse Vlakte aangebreek. Hul het uiteindelik ʼn bietjie erkenning – ʼn woord uit die Psalms, maar meer bekend as die Pesalms! Dr. Willa Boezak, ʼn direksielid van die Dak-netwerk en die Afrikaanse Taalraad het onlangs lig gebring aan Afrikaapssprekendes met ʼn boek vol van die Pesalms!

Die Pesalms vi ôse mense is ʼn uitstekende idee om juis die Afrikaapssprekendes te wys dat hul ook deel van die samelewing is en dat daar ook iets vir hulle is om aan te peusel.

Boezak het in samewerking met Willem Fransman jr., ook ʼn bekende digter, besluit om al 150 Psalms in Afrikaaps te vertaal en dit in ʼn boekie saam te stel. Dit is met hulp van die Dak-netwerk, ATKV, SA Akademie en die WAT gepubliseer. Dit is ʼn bewys dat Afrikaaps stadig maar seker besig is om sy plekkie in die diepe, steil en harde grond van die samelewing vas te anker. Ek meen, elkeen behoort om in ʼn kerk te sit waar hulle die Woord kan verstaan. Ek dink dis juis hoekom ons so min van ons volk – juis in histories benadeelde gemeenskappe – in die kerk sien, want hul verstaan nie die Woord wat van die kansel af kom nie. Hier is ʼn uittreksel uit Pesalm 1 vers een en twee:

“Die Djirre lei vi hulle wat reg lie’we
Hêppie is daais wattie lyste na gangsters’ie,
Oekie moet merts vrinne maak’ie of moet skinnebekke saam whietie nie,
Maa wat hulle geluk vang innie woord vannie Djiree
En ammekaa daa’oo dink, vannie oggend torrie aand”

William Sezoe (Foto: Verskaf)

Ek hoop dat hierdie net die begin van nuwe wêrelde vir die Afrikaaps-gemeenskap is en dat dit as motivering sal dien vir ander variëteite se sprekers. Dit moet hulle motiveer om op te staan vir die tipe variëteit wat hul praat, brûe te bou om die sodoende die nodige erkenning daarvoor te kry en om hul gemeenskappe daarmee op te voed en te mobiliseer.

Ek glo hiermee sal ons meer sprekers op die Kaapse Vlakte kry wat die Woord verstaan en sodoende sal gehoorsaam. Die Pesalms is in die daaglikse omgangstaal van die sprekers geskryf en maak dit dus meer akkommoderend. Dit is natuurlik ook relevant omdat die Pesalms praat van die uitdagings wat ons as mense in ons samelewing beleef. Nóú is dit ʼn gebedsaak om ons predikante aan boord te kry om die Pesalms “oorie” kansel – soé aan die geliefdes te deel!

Uitgewer: Dak-netwerk
Prys: R200,00*

*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Dak-netwerk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.