Resensie: Nie vir ma’s nie – ʼn kookboek vir pa’s en kinders

Deur Louise Viljoen

Ek het ʼn spesmaas dat hierdie prettige kookboek vir pa’s en kinders wel in die geheim deur ma’s gebruik gaan word, want dié versameling heerlike resepte word van maklik verkrygbare bestanddele gemaak. Enige groentjie in die kombuis sal gou leer dat kosmaak eintlik kinderspeletjies is.

Die boek, saamgestel deur Karin Behm-Joubert en Daleen van der Linde, het stap-vir-stap aanwysings en bevat handige omskakelingstabelle, kombuisreëls en interessante wenke. Nie net leer die jongklomp oor die doel van kombuistoerusting nie, maar die lesse in veiligheid in die kombuis help dat dinge glad verloop wanneer die stoom trek soos hulle bak en brou.

Indien jy reken dat die resepteboek pa’s en kinders slegs leer hoe om eiers te kook, gaan jy aangenaam verras wees. Daar is watertand resepte vir ondermeer groentelasagna, mayonnasie-braaihoender, brandribbetjie, brediepotjie, beesvleis-en-aartappelpastei en selfs skelvispastei. Sou die jongklomp ontbyt wil voorberei of eerder wil waag met voorgeregte, slaaie, bykosse, aandetes, braaidisse en teetydversnapperinge, hierdie maklike resepte gaan sorg dat hulle baie pret in die kombuis hê. Wie sal nou nie verlei word met cowboykos, skud-pizza en oepsies nie?

My kopie van Nie vir ma’s nie kry ʼn ereplek in my kombuis. Manlief wil reeds die sjerrie lamstjops en super-sjokoladekoek die naweek probeer, so ek glimlag byvoorbaat breed oor die groot bederf.

Die boek word uitgegee deur LAPA Uitgewers
Prys: R230-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

*Louise Viljoen is ‘n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.