Resepteboek: Winterkos in Provence

Winterkos in Provence deur Marita van der Vyver

Winterkos in Provence deur Marita van der Vyver

Marita van der Vyver

Marita en Alain se groot familie eet graag en baie. Marita verkies om volgens die seisoene te kook, om geld, tyd en moeite te spaar – en vir optimum smaak. In die winter moet sy slim koop en kook om die beste te maak van die kleiner verskeidenheid vars produkte, maar sy ken talle kosgeheime en haar kos word opgekikker op allerhande maniere. Die boek is op Suid-Afrikaanse kokke gemik en al die bestanddele is plaaslik beskikbaar.

Die boek is vol watertand-idees. Marita maak gebruik van die olywe-oes, oesters en foie gras. Kerstyd word kleinkoekies verslind, en Provensaalse Kersmaal word met die Dertien Nageregte afgesluit. Koningsterte word gebak met ʼn gelukbringertjie weggesteek in ʼn geurige amandelvulsel, asook stapels pannekoek. Dan is daar ook ingelegde ansjovis, eend, droë worse en gerookte hamme, gedroogde kabeljou, patees en konfyte.

Sy maak seker dat die resepte sonder te veel moeite of onkoste buite Frankryk aangedurf kan word. Dis kos hierdie wat meer as net die lyf voed, dis kos wat die siel verwarm. Sielskos, hartlike kos, opregte kos.

“Á table!” bulder Alain uit die kombuis, bo-oor die musiek wat soos altyd vreeslik hard speel wanneer hy kook. “Kos is op die tafel!”

Oor die outeur:
Marita van der Vyver is een van Suid-Afrika se mees geliefde skrywers met tien boekpryse en verskeie topverkopers agter haar naam. Haar debuut, Griet skryf ʼn sprokie, het opslae gemaak en is talle kere herdruk. Sedertdien bly sy in die openbare oog, veral sedert haar huwelik met ʼn Fransman en haar nuwe lewe in Frankryk waaroor sy skryf in haar gewilde rubrieke. Lesers volg haar en haar groot gesin se wel en weë van naderby en voel hulle ken haar persoonlik.

Marita woon in Provence saam met Alain, sy kinders, haar seun – en Mia, hul gemeenskaplike dogter.

Sy is mal oor eet en kosmaak en sy skryf soos ʼn engel. Geen wonder haar boek met kosstories en gunstelingresepte bied ʼn onweerstaanbare kombinasie nie.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R285-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.