Rocksusters

Christien Neser

Maak gereed vir nog ‘n Elle-avontuur propvol raaisels, romanse en rock!
Elle kan nie wag vir die Musikanto-fess wat Oktober in Parys plaasvind nie. Selfs al is dit die Parys aan die Vaalrivier en nie die een aan die Seine nie. Die regte Parys sal moet uithaal en wys, want Elle het ontdek:
1. Die Musikanto is ‘n splinternuwe, landswye skolefees.
2. Buiten die klassieke musiek, is daar ‘n toneelfees en ‘n rockfest.
3. Dis nie sommer nog ‘n kunstefees nie, dis ‘n happening – iets soos Woodstock of Oppikoppi.

Maar eers moet die orkes geld insamel om in ‘n ordentlike hotel te gaan bly, eerder as op ‘n aaklige kampeerterrein met grillerige badkamers. Self al beteken dit Elle en haar vriendinne moet leer koekies bak en dit by die seunskool probeer smous.

En dan is daar die nuwe meisie, Leya. Sy dra net swart en jaag Elle se kamermaat. Refi, behoorlik die skrik op die lyf. Wat is haar storie? Waarom sluip sy snags in die donker rond? En hoekom voel dit vir Elle of sy iets van haarself in die vreemde, teruggetrokke meisie herken?

Asof dinge nie dolgenoeg is nie, besluit Divan en sy pelle om ‘n rockgroep te begin, en hulle vra Elle om by hulle aan te sluit. Die enigste probleem is dat die ouens vrot klink. Ultrasuper-vrot. Vrot genoeg om koshuiskatte te ontstel. Sal Elle met haar klassieke opleiding kan help om ‘n flou garage-poging te omskep in ‘n rockgroep met genoeg houding om ‘n kompetisie te wen?

En dan is daar natuurlik Alex, wat nog steeds Elle se hart kondensmelk laat pomp. Hy is deesdae bleek van al die swot vir die matriekeksamen. En Elle is skoon bleek van verlang na hom. Wat gebeur as hy volgende jaar uit die skool is?

Rocksusters is die vierde boek in Christien neser se gewilde reeks met Elle as hoofkarakter. Die vorige boeke, Kondensmelk, Koshuiskoffie en Blou sjokolade, was al drie topverkopers.

Oor die outeur:
Christien Neser is ‘n opgeleide spraakterapeut wat onder meer ‘n honneursgraad in Frans en ‘n meestersgraad in toepaslike linguïstiek agter haar naam het. Sy het ook die Goethe Institut se Zertifikat Deutsch voltooi, en basiese Spaans onder die knie gekry voordat sy in 2008 die Inka-roete gaan stap het. Christien en haar man, Thys, is in Parys, Frankryk, getroud, maar woon deesdae in Bryanston, en het drie konders, Louise, Mishael en Chris. Haar voorliefdes is haar man en kinders, tale, skryf, lees, Britse humor, Franse flieks, sudoku, die gesin se stoute Jack Russells, vakansies in ongerepte plekke, vriendinne, stap, ski, tandem- en bergfietsry.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R100-00*
*Prys onderhewig aan verandering

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.