Ronel Nel se ‘Pelgrimshoop’ is ʼn storie met ʼn hart

pelgrimshoop-ronel-nel

Pelgrimshoop is die skrywer Ronel Nel se eerste roman. Foto: Maroela Media.

Dit gebeur nie aldag dat ʼn skrywer ʼn nuwe perspektief op ʼn ou tema kan oopskryf nie, maar Ronel Nel se debuutroman slaag suksesvol hierin.

Sy gebruik feite uit Suid-Afrika se geskiedenis en vermeng dit behendig met haar familie se eie verlede om die storie van Pelgrimshoop te maak.

Die hoofkarakter, Hannah de Witt, kom uit ʼn half-Joods, half-Afrikaanse familie van Pretoria op die fiktiewe dorpie Pelgrimshoop in die Laeveld aan. Dit is 1956, nie ʼn maklike tyd vir mense soos Hannah wat ander aanvaar vir wie hulle is en haar nie aan die vooroordele van haar tyd steur nie.

Sy het hierheen gekom as leermeesteres van ʼn ryk perdeboer, genaamd Elias Barr. Hy is aanvanklik vir haar ʼn enigma. Hy is nors en terughoudend, maar dit is ʼn skans waaragter hy sy grootste geheim bewaar, besef Hannah mettertyd.

ronel-nel-lapa

Ronel Nel. Foto: Lapa Uitgewers.

Terwyl sy vir hom die skatkis van die wetenskap, musiek en letterkunde ontsluit, leer sy op haar beurt van hom wat dit beteken om verknog te wees aan die grond en diere, van wat dit bereken om net ʼn paar mense aan jou kant te hê in die aangesig van brutale vyandigheid van die kleindorpse gemeenskap. En in Elias leer sy wat liefde is en hoe versigtig dit hanteer moet word.

Hoewel die roman in 1956 afspeel, is die kwessies soos blinde vooroordeel jeens alles wat “anders” is vandag steeds relevant.

Nel is ʼn vryskutjoernalis wat sedert 1988 vir verskeie gesins- en reistydskrifte skryf. Sy is ook verantwoordelik vir rooirose se boeke-, kuns-, en vermaakafdeling. Nel het al ʼn digbundel en drie kinderverhale op haar skrywerskerfstok.

  •  Luister bo aan hierdie berig hoe vertel Ronel Nel self meer oor die inspirasie agter die storie van Pelgrimshoop en watter soort boeke sy graag self lees as sy tyd het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.