Room van kinderboekwêreld kom byeen

Argieffoto (Foto: Victoria_Borodinova/Pixabay)

Die plaaslike kinderboekwêreld is in rep roer vir die tweede Suid-Afrikaanse Kinderliteratuurfees wat tussen 20 en 22 Mei by die Heartlands-toevlugsoord in Somerset-Wes plaasvind.

Dit is die enigste fees wat eksklusief op kinderboekskrywers en -illustreerders fokus en boonop ook die grootste kinderliteratuurfees in Afrika. Die fees is ʼn viering van kinderliteratuur, dus boeke vir lesers tussen agt en 12 jaar.

Volgens dr. Mia Oosthuizen, samesteller van die feesprogram, is dit vir die organiseerders belangrik om ʼn platform te skep waar plaaslike kinder- en jeugboeke vereer word. Die fees word gereël deur Oosthuizen, Darryl David (feesdirekteur), Irene Fischer (administrasie en bemarking) en Nikki Bower van die Heartlands-toevlugsoord.

“Met hierdie fees wil ons die land se uitgebreide aanbod van boeke vir jong lesers vier, skrywers en illustreerders vereer, en lees en geletterdheid in die kollig plaas. Vanjaar se program is saamgestel met die fokus op diversiteit en veeltaligheid,” sê Oosthuizen.

Altesaam 90 skrywers en illustreerders neem vanjaar aan die fees deel. Dit sluit bekende skrywers in soos Fanie Viljoen, Anzil Kulsen, Hannes Barnard, Lorato Trok en Zelda Bezuidenhout. Debuut- en ontluikende skrywers soos Cliffordene Norton, Leon-Ben Lamprecht, Sandile Ngwenya en Thulani Simayali is ook op die program.

“Enkele onderhoude sal via Zoom geskied, maar ons is vreeslik bly dat bykans alle skrywers en illustreerders self by die fees gaan wees,” voeg Oosthuizen by.

Die fees duur daagliks van 10:00 tot 16:00 met ʼn boekbespreking en onderhoud elke 20 minute. Langer sessies word afgestaan aan groepbesprekings en die toekennings wat aan skrywers en illustreerders oorhandig word. Die skrywers wat vanjaar vir hul merkwaardige, lewenslange bydrae tot kinder- en jeugliteratuur vereer word, is Marita van der Vyver, Marjorie van Heerden, Marguerite Poland en Chris van Wyk (postuum).

Naas die literêre feesprogram is daar ook hope vermaak vir kinders. Van springkastele, gesigverf en spel met klei, tot voorlesings en storievertellings. Die fees bied dus ʼn unieke uitstappie vir die hele gesin, alles gesentreer om die wonder van stories en boeke.

Die opbrengs van vanjaar se fees word aan die Heartlands-toevlugsoord vir babas geskenk.

Bargain Books Willowbridge behartig alle boekverkope by die fees, en die skrywers en illustreerders sal na hul praatjies beskikbaar wees vir handtekeninge.

Kaartjies kos R50, maar kinders onder 12 kry gratis toegang. Feesgangers kan aanlyn vir die fees inskakel en dié kaartjies kos ook R50. Klik hier om kaartjies vir aanlyn bywoning te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

Solank daar nie n ” woke” agenda agter dit skuil nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.