Rykie – ‘n lewe met woorde

Lizette Rabe

In ’n tyd toe die meeste vroue óf onderwyseres óf verpleegster geword het, het Rykie van Reenen vir haar ’n loopbaan oopgeskryf in die joernalistiek. Sy het Suid-Afrika se eerste vroulike oorlogskorrespondent geword toe sy die Jom Kippoer-oorlog in Israel gaan dek het. In die 1960’s het sy naam gemaak as rubriekskrywer vir “Van alle kante” in Die Burger en in die 1970’s vir “Op die randakker” in Rapport. Die rubrieke was só gewild dat dit as ’n sirkulasiebouer by Rapport beskou is en later ook gebundel is.

Van Reenen se fyn waarnemingsvermoë, wydbelesenheid en kreatiewe taalgebruik het haar in ’n klas van haar eie geplaas. Sy het geskryf oor kerksake, die politiek van die dag en het onderhoude gevoer met van Hendrik Verwoerd tot Steve Biko. Van Reenen word beskou in dieselfde liga as Piet Cillié en Schalk Pienaar en het ’n groot rol gespeel in die professionalisering van vroue-joernaliste.

Twee boeke het uit haar pen verskyn: Emily Hobhouse: Boer War Letters (1984) en Emily Hobhouse: Heldin uit die Vreemde (1970).

Oor die outeur
Lizette Rabe was die eerste vrou wat aangestel is as redakteur van ’n Afrikaanse publikasie by Naspers, en ook die eerste vrou aan die hoof van die Universiteit van Stellenbosch se joernalistiekskool. Sy was redakteur van die vrouetydskrif Sarie van 1994 tot 2001 toe sy haar joernalistieke loopbaan van twintig jaar verruil het vir een in die akademie.

Rabe is outeur, mede-outeur of samesteller van verskeie boeke, lid van verskeie professionele verenigings, nasionaal en internasionaal, was raadslid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum en sameroeper en lid van verskeie beoordelaarspanele, onder meer vir Media24 en Vodacom.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R250,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.