Satiriese digter sterf op 90

Matthys Michielse Walters, ’n bekende Afrikaanse digter, dramaturg en satirikus, is op 28 Julie in die ouderdom van 90 dood (Foto: Foto-Beeld)

Matthys Michielse Walters, ’n bekende Afrikaanse digter, dramaturg en satirikus, is op 28 Julie in die ouderdom van 90 dood.

“Hy was ’n ware heer, ’n mens met ’n werklike groot gees, ’n groot intellektueel en een van ons grootste digters,” het Nicol Stassen, besturende direkteur van Protea Boekhuis, in ʼn Facebook-inskrywing gesê.

Vier van Walters se bundels, wat Satan ter sprake en Shih-Ching Liedereboek in 2004, Aki no kure – Herfsskemering: ’n bloemlesing Japannese gedigte (2006) en Braille-briewe (2011) insluit, het by dié uitgewer verskyn.

Walters het in 1967 sy buiging as digter gemaak met Cabala. Die bundel is saamgestel uit ʼn versameling van sy gedigte wat voorheen in die letterkundige tydskrif Standpunte verskyn het.

Cabala is in 1968 met die Eugène Maraisprys bekroon en ontvang in 1969 die Ingrid Jonker- en die WA Hofmeyr-prys.

Ander werke uit die pen van Walters sluit in Die vroue van Kores: ’n spel oor die lot van mense (1975), Miskien woon julle onder ons (1978), Saturae (1979) en ʼn paar reisboeke waaronder Droom van die Weskus: ’n fotoverhaal van Saldanhabaai (1976), Die Swartland is my tuisland: ’n nostalgiese reis (1990) en Die Weskus van die Kaap (1998).

Walters het vanaf 1960 by die Graaff-Reinet Onderwyskollege Afrikaans as vak aangebied. Hy het van 1967 Afrikaans gegee by die Paarl Onderwyskollege en in 1985 is hy by die Universiteit van Kaapstad aangestel as medeprofessor in die Departement Afrikaans en Nederlands. Walters het ook vir ʼn tyd op die redaksie van die Tydskrif vir Letterkunde gedien.

ʼn Huldeblyk is in 2010 by Versindaba se Poësiefees deur Dorothea van Zyl aan Walters gelewer ter viering van sy tagtigste verjaardag. Hy is ook in 2015 by die Breytenbach-sentrum in Wellington in die Tuin van Digters gehuldig vir sy bydrae tot die letterkunde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.