Schalk Schoombie verweef kosbedryf met skreeusnaakse speurverhaal

schalk-schoombie

Schalk Schoombie gesels oor sy speurverhaal ‘Rooi haring’. Foto: NB-uitgewers.

“Ek is die sondebok. Ek het dit gedoen.”

Só begin Schalk Schoombie se Rooi haring, ʼn skreeusnaakse speurverhaal wat in die plaaslike restaurantbedryf afspeel.

In dié vlymskerp roman met verskeie kinkels word ʼn vooraanstaande glanskok, Hartman Swiegers, vermoor tydens die openingsaand van sy nuwe, eksklusiewe restaurant in Pretoria. Sy bevrore liggaam word in ʼn vrieskas gevind met twee opgerolde harings as die enigste leidrade.

Greta Burger, ʼn kos-blogger, stel haarself as speurder aan in die moord en laat haar deur haar intuïsie, oftewel “gevoelentes” lei terwyl sy Swiegers se moord help ondersoek.

Rooi haring ontaard in ʼn dolle soektog met verskeie draaie en ompaaie wat uiteindelik tot ʼn ontknoping met ʼn angel lei.

Dit is Schoombie, wat deesdae in Alberton woon, se tweede boek. Sy debuutroman, Boomskastele, was vir die ATKV-prosaprys en die Jan Rabie- Rapportprys genomineer. Schoombie is egter ʼn ou hand as dit kom by storievertelling – hy is ʼn bekroonde dramaturg, asook kunsresensent, vryskutjoernalis en voormalige redakteur van die tydskrif De Kat.

Reeds met die skryf van sy eerste boek het Schoombie gesê dit is vir hom belangrik om ʼn boek te skryf wat ietwat ongewoon is. Hy wil tog net nie nog ʼn boek skryf wat iewers op ʼn boekrak stof vergader nie, was sy woorde.

Met Rooi haring het Schoombie die tafel behoorlik gedek in die styl van ʼn klassieke whodunit in die tradisie van Agatha Christie se pen, terwyl dit heerlik die draak steek met die wêreld wat tans heeltemal gaande is oor alles wat met kos te make het.

    • Luister na die onderhoud boaan hierdie berig om te hoor met watter skrywer Schalk Schoombie graag sal wil gesels. Hy vertel ook vir Esté Meyer Jansen hoekom hy ʼn speurverhaal geskryf het wat in die restaurantbedryf afspeel, en met watter skryfwerk hy tans besig is.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R290-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.