Seisoen van genade

Alta Cloete

Alta Cloete het al ’n stewige aanhang opgebou met haar eerste trilogie: Geur van genade, Geur van vergifnis en Geur van vervulling. Sy vul ’n gaping in die mark met liefdesromans wat inspireer. Haar styl is uniek en deurspek met ’n droë humorsin wat keer dat die inspirerende dele pedanties raak.

Karakters wat reeds hulle droefheid en woede verwerk het in die Geur-reeks keer in hierdie nuwe roman terug en loop ’n pad van genade saam met Karla en Chris. Karla keer terug uit Australië na Suid-Afrika. Maar sy dra swaar aan haar onverwerkte skuld en woede uit die verlede. Sy word by Marius en Mariaan se huishouding betrek omdat sy Marius se dogter Emily se vriendin is. En dan ontmoet sy vir Chris.

Chris is haar teenpool – selfversekerd, sjarmant, humoristies, in beheer van sy lewe en baie aantreklik. Oënskynlik volkome uitgesorteer, veral as ’n mens in ag neem hoe gemaklik hy met sy spraakprobleem is. Maar min mense weet wat in Argentinië met hom gebeur het. Mettertyd kom Karla – en hyself – agter hy het ook ’n stukkie onafgehandelde bagasie …

Oor die outeur
Alta Cloete is die skrywer van ongeveer 50 tydskrifverhale en 10 romanses. Sy verkies om ontspanningsliteratuur te skryf omdat dit (vir die skrywer sowel as die leser) ontvlugting aan die harde Suid-Afrikaanse werklikheid verskaf. Haar karakters is mense vol swakhede, maar ook mense wat soms oor meer innerlike krag beskik as wat hulle self gedink het. Sy is aktief betrokke by die Romanza Skrywers- en Lesersblogs waarvan sy een van die administrateurs is. Alta moedig besprekings aan oor Afrikaanse leesstof op LitNet en facebook, en sy vind groot vreugde daarin om op enige manier die régte boek by die régte leser uit te bring.

Die Seisoen-reeks handel oor die jonger newekarakters in die Geur-reeks en sal ’n kwartet vorm. Seisoen van vergifnis verskyn binnekort.

Uitgewer: LAPA
Prys:R175-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.