Seisoen van vergifnis

Alta Cloete

Toe dit vir Amanda duidelik geword het Wim voel nie oor haar soos ‘n stiefsuster nie, het hy hom weggestuur en teen haar hart baklei. Nou wil die hart hom nie meer voorsê nie. Maar nou is dit te laat, want Wim het ‘n Noorweegse skoonheid aan sy sy. Is daar nog ‘n kans of was daardie een nag onder die sterre net een nag?

En in Amanda se spreekkamer begin sy vermoed haar biologiese pa is die kliënt wat al ‘n geruime tyd van haar dienste as sielkundige gebruik maak, sodat hy ‘n misstap in sy verlede met sy hede kan versoen. As haar vermoede in die kol is, weet sy nie net wie haar pa is nie, sy kan ook meer uitvind oor die ma wat haar nie wou hê nie.

Ook Wim moet onverwags ontstellende feite oor sy afkoms in die gesig staar en hanteer. As hy kan.

Seisoen van vergifnis is die vyfde boek in die Geur- en Seisoen-reeks. Lesers wat vertroud is met karakters uit die vorige vier romans sal hulle in hierdie roman terugvind. En vir diegene wat nou eers kennis maak met hierdie uitgebreide familie en hulle sonderlinge manier om probleme op te los, wag ‘n heerlike leeservaring.

Oor die Outeur
Alta Cloete het al ongeveer 50 tydskrifverhale en 10 romans geskryf. Sy verkies om ontspanningsliteratuur te skryf omdat dit ontvlugting aan die harde werklikheid verskaf. Haar karakters is mense vol swakhede, maar ook mense wat soms oor meer innerlike krag beskik as wat hulle self gedink het. Sy is aktief betrokke by die Romanza Skrywers- en lesersblogs waarvan sy een van die administrateurs is. Alta moedig besprekings aan oor Afrikaanse leestof op LitNet en Facebook, en sy vind groot vreugde daarin om op enige manier die regte boek by die regte leser uit te bring.

Haar styl is gestroop en deurspek met ‘n droë humorsin wat keer dat die inspirerende dele pedanties raak. Haar tekste vergelyk goed met internasionale skrywers soos Karen Kingsbury. Die bonus is egter dat Alta oorspronklik Afrikaanse stories skryf.

Alta het al ‘n stewige aanhang opgebou met haar eerste trilogie: Geur van genade, Geur van vergifnis en Geur van vervulling en die eerste boek in die Seisoen-reeks, Seisoen van genade.

Uitgewer: LAPA uitgewers
Prys: R175-00*
Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.