Seisoen van vervulling

seisoen_van_vervullingdeur Alta Cloete

Seisoen van vervulling is die derde boek in Alta Cloete se Seisoen-reeks. Die verhaal speel gedeeltelik in die Noorweegse winter en gedeeltelik in die hitte van ʼn Bolandse somer af. Die hoofkarakters, Ben en Emily, is beide sterk persoonlikhede, gevestig in hul onderskeie beroepe en wroeg nie oor dinge waaraan hulle niks kan doen nie.

Wanneer hulle mekaar egter in Noorweë vir Wim en Amanda, die hoofkarakters in die voorafgaande Seisoen van vergifnis, se troue ontmoet, is die vonk van ʼn dekade gelede weer daar. Albei is onwillig om in ʼn verhouding betrokke te raak, maar laat hulself tog betrek in ʼn vakansieromanse. Daarby is hulle nie heeltemal eerlik met mekaar nie.

Die gevolg is dat Emily teen wil en dank vir Ben bystaan toe sy agterkom hy moet behandeling ondergaan vir testikelkanker, wat hy as ʼn geweldige verleentheid ervaar (want mans praat gewoon nie oor sulke goed nie), en dat ʼn baie onwillige Ben later in Suid-Afrika by sy naderende vaderskap probeer aanpas.

Die verhaal volg egter nie die ooglopende en maklike pad waar Ben bloot lief raak vir Emily en besluit hy wil eintlik die baba hê nie. Nee, die karakters moet saam die verlies van die baba wat hulle met vrees en later met vreugde ingewag het, hanteer en juis hierin lê die persoonlike groei wat hulle tot nuwe deernis en volwassenheid bring.

Die Seisoen-reeks:
Soos in die vorige  twee boeke in die reeks, Seisoen van genade en Seisoen van vergifnis, is die hoofkarakters hier ook van die jonger newekarakters wat reeds in die voorafgaande Geur-reeks verskyn het. Terugvoer toon dat die karakters alreeds vir baie lesers soos ou bekendes geword het en dat hulle uitsien daarna om telkens van ʼn nuwe paartjie se wel en wee te lees. Albei reeks ondersoek ingewikkelde familie- en gesinsintriges, albei werk met mense wat geensins engeltjies is nie, maar in albei reekse seëvier die rede uiteindelik, al is die keuses wat gemaak moet word hoe moeilik. Die Geur-reeks het bestaan uit Geur van genade, Geur van vergifnis en Geur van vervulling.

Oor die outeur:
Alta Cloete is die skrywer van omtrent vyftig gepubliseerde tydskrifverhale, tien romanse en vyf romans in die Geur- en Seisoen-reekse. Sy skryf hierdie verhale omdat dit is wat sy self die graagste lees en omdat sy bevoorreg voel om deel van die oplewering in Afrikaanse ontspanningslektuur te wees.

Haar karakters is nie volmaakte poppe nie, maar gewone mense met gewonde foute, vrese en vreugdes en sterk- sowel as swakpunte. Die kwessies wat in haar boeke aangespreek word, is relevant vir die moderne leser, maar sy poog om die aanbieding altyd lig en toeganklik te hou. Hoewel die romans gewoonlik op ʼn hoopvolle noot eindig, doen sy moeite om nie die indruk te skep alles gaan noodwendig volmaak wees en die prentjie gaan nooit weer probleme hê nie. Haar stories word egter nooit ʼn preek nie en haar doel bly steeds om in die eerste instansie ʼn lekker storie te vertel waarmee die leser kan identifiseer.

Uitgewer: Lapa uitgewers
Prys: R195-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.