‘Seuns sonder pa’s’

Argieffoto. (Foto: Olya Adamovich/Pixabay)

Hier volg ʼn uittreksel uit Seuns sonder pa’s deur Julian Jansen.

In die hart van elke seun is daar die oerbehoefte om soms om hulp te roep. Dikwels word dié kreet om een of ander rede gedemp of in die kleinste hoekie van die hart weggebêre.

Baie pa’s is soms doof vir hierdie hulpkreet, hulle wat juis moet help om die leeu in hul seuns wakker te maak sodat hy dapper kan lewe, berekende risiko’s kan neem.

As die pa afwesig is en die gemeenskap of familie nie ingryp nie, sal die seun spoedig ’n plaasvervanger vir hom soek.

Statistieke Suid-Afrika se jongste navorsing oor huishoudings (2016/2017) gee ’n hartseer prentjie – meer as 60% van kinders in Suid-Afrika ken nie ’n pa nie of het geen herinnering van een nie. In sowat 10% van dié huishoudings is die pa oorlede. Waar daar wel ’n pa is, speel hy in 50% van die gevalle geen rol in sy kinders se lewe nie.

In 2018 het 43,1% van kinders by ’n enkelma en 3,3% by ’n enkelpa gewoon. Die werklikheid van afwesige pa’s is ’n kommerwekkende aspek van die jaarlikse statistieke.

Dit verg ’n spesiale mens om ’n pa vir ’n kind te wees. Dit moet iemand wees wat die verantwoordelikhede verstaan van pa-wees, maar wat ook begrip het vir die verantwoordbaarheid wat só ’n geskenk van God meebring. Soms is die vaderfiguur nie eens bloedfamilie nie.

Ek het diep in my eie lewe gaan grawe oor hoe dit was om onder die hoofleeu se gesag te leef – en uiteindelik ook daarsonder. My lewe is beïnvloed deur my pa, Donald Jansen, se eie ervaring as kind en sy lewe onder sý pa en sy tydgenote. Sy droom was om ’n onderwyser te word, om in sy pa en oupa se voetspore te volg, maar verskeie faktore het daartoe gelei dat hy ’n polisieman en uiteindelik ’n soldaat geword het. Vir my was dit apartheid en posttraumatiese stresversteuring (weens grensdiens) wat hom as ’n vaderfiguur gebreek het – maar ook swak persoonlike besluite. In ’n absoluut hartseer einde het die lewe hom uiteindelik as ’n hawelose uitgespoeg.

My pa se skaduwee was oral om en oor ons ses kinders, soms allerversmorend. Hy was destyds selfs meer prominent in ons lewe as Jesus Christus. Hy was sowel die held as die skurk in sy gesin. En toe ons hom die nodigste gehad het, het hy net verdwyn en nooit weer teruggekeer nie.

Vandag nog is daar steeds skadu’s in ons.

Ons vier seuns kon so maklik skollies geword het, maar op kritieke tye in ons lewe het ons mentors gehad – mense sonder kwitansieboeke wat ons deur positiewe ingrypings veerkragtig gemaak het.

Die spreekwoordelike leeu is in elkeen van ons losgemaak.

Ons het verskuilde eienskappe in onsself ontdek en ontwikkel en is so van verkeerde afdraaipaaie gered. Dit kon so maklik anders gewees het.

Die lewe is ’n harde leerskool en krisisse kan jou maklik laat ontspoor – maar dit is ook geleenthede om van rigting te verander.

In die afwesigheid van ’n pa het jong seuns ’n vaderfiguur nodig wat as ’n mentor kan dien in daardie kritieke oorgangsfase van tiener na jong volwassene. Dan, soos die Afrikagesegde lui, moet ’n hele dorpie saamspan om ’n kind groot te maak. Hulle moet die vensters van ’n jong seun se siel helder en blink maak.

Vir miljoene seuns is dit egter nie beskore nie – en dít is die tragedie. Wanneer ouers en die gemeenskap daardie seuns faal, keer hulle terug en byt die gemeenskap aan die hakskeen. Hierdie verwarde, gedisoriënteerde en wanhopige seuns word ’n maklike werwingsbron vir bendes.

Hulle vind mentors in bendeleiers wie se oënskynlike mag, geld en sukses ’n byna onweerstaanbare aantrekkingskrag is.

Dit is nié die regering se taak om seuns groot te maak nie. Dit is die ouers se verantwoordelikheid, bygestaan deur die kerk, skool, sport- en kultuurklubs. Almal moet bydra om van hulle meelewende, aktiewe lede van ’n gemeenskap te maak.

In hierdie boek deel verskeie individue wat ’n positiewe rol in my lewe gespeel het hul ondervinding van en kundigheid oor die impak van vaderlose huise. Elkeen het in ’n stadium ’n betekenisvolle rol in my lewe gespeel – ek noem hulle my eie gideonsbende.

Hulle deel onvoorwaardelik hul ervaring en kennis wat spruit uit die suksesse wat behaal is met strukture en prosesse waarby hulle aktief betrokke is. Almal het ’n gemene deler: hul kennis van die feilbaarheid van pa’s en die soeke na ’n herdefinisie van wat vaderskap kan beteken.

Die boek sluit dan ook vernuwende denke in oor wat ’n vadersrol kan en moet behels.

Omwentelings in die samelewing en nuwe denke daag verskeie konsepte uit, onder meer dié van die vaderfiguur.

Nuwe konsepte beur na vore wat die vraag laat ontstaan: Moet die vaderlike rol noodwendig net deur die biologiese man gespeel word?

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Ek en my vrou het ons verpligtinge as ouers nagekom as dit by ons kinders se opvoeding kom, hulle is mooi groot en ons is trots op hulle. So tref die noodlot een van my dogters en ons moet skielik inval as ouers (Oupa en Ouma). Pappa van die kinders is nie meer daar en die jongste kind het sy Oupa as Pappa gekies. Dit is totaal waar wat in die berig staan, as die mannetjie seergekry het kom hy na my toe, as hy iets nuuts ontdek het moet Oupa eerste kom kyk. Maak maar daardie behoeftige gaatjie vol as dit by kinders kom,

KhoiKhoi ·

Alle voorspoed met die boek en die boodskap wat by die wêreld wil instuur.
Daar is so ‘n groot tekort aan PA’s in ons samelewing..
Ook die wat wel in in die huis woon en nog steeds nie hul plig nakom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.