Sirkusboere

Sirkusboere_ruff5Sonja Loots

Dit is die jaar 1903. St. Louis in die Amerikaanse staat Missouri is ’n rokerige, raserige rivierstad. Dit lê ingewig in die samevloeiing van die Missouri en die Mississippi; hier loop die Wilde Weste, die Middeweste en die Suikerplantasiesuide in mekaar en ’n wilder, kleurryker mengelmoes kan jy jou kwalik voorstel. Maar in die jaar 1903 word die grense van die verbeelding versit, want nie net word die wêreldtentoonstelling op die skouterrein in die hartjie van die stad gehou nie, maar die mense stroom ook aand na aand na die Louisiana Purchase Exposition, oftewel die Boer War Circus.

Dit is ’n jaar ná die Anglo-Boereoorlog, en in die middel van ’n sirkus-arena in die Amerikaanse hartland staan ’n man in wat later jare as die tipiese drag van Boerekrygers herken sou word: breërandhoed, onderbaadjie, bandelier, kamaste. Hy het ’n druipsnor en bokbaardjie, wakker oë en ’n lang, reguit neusbrug. Hy kondig die vertoning met ’n paradegrondstem aan: “Ladies and gentleman, the Battle of Paardeberg!” Agter die skerms gee die sirkusbaas die teken en die donderslae van kanonvuur laat die gehoor na hul ore gryp, die arena word gevul met rook, gille en die tap-tap van geweervuur.

Die man in die middel van die arena is Ben Viljoen, generaal Ben Viljoen. ’n Jaar tevore was hy nog een van die Boeremagte se knapste bevelvoerders. Die sirkusbaas agter die skerms is ene Frank Fillis, ’n impresario van wêreldformaat.

Sonja Loots se roman is die verhaal van oud-Boerestryders se deelname aan Fillis se sirkus – enersyds die verhaal van mense wat van hul ergste trauma ’n sirkus gemaak het; andersyds die verhaal van iemand wat weet hoe om die mens se aptyt vir skouspelagtige geweld uit te buit.

Met groot oorspronklikheid ontgin sy hierdie gegewe om nie net ’n aangrypende historiese roman te lewer nie, maar om ook iets te sê oor die huidige lewe in Suid-Afrika.

Oor die outeur
Sonja Loots het aan die Universiteite van Stellenbosch en Rhodes studeer (MA, cum laude) en ook by tersiêre instellings doseer (Pretoria Technikon, Universiteit van Johannesburg). Sy was joernalis (by Die Burger, De Kat), en het na ‘n verblyf van drie jaar in Londen by Random House aangesluit as bemarkingsbestuurder. Haar skryfvaardighede het sy o.m. geslyp as draaiboekskrywer vir die gewilde sepie 7de Laan. Tans is sy dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad.

Theresa Papenfus van Litera Publikasies het vroeër in haar boekrubriek “Tussen Buiteblaaie” in die aanlyntydskrif Sonder Seëls oor die boek geskryf:
Die wenner van 2012 se MNet-prys vir Afrikaans – en ander pryse.
Ná die Anglo-Boereoorlog stem ‘n klompie Boere in om die stryd op ‘n tentoonstelling in Amerika te gaan opvoer. Generaal Piet Cronjé moet daagliks sy oorgawe by Paardeberg herleef, terwyl ander, soos Ben Viljoen ten alle koste die oorlog en herinneringe wil afskud. ‘n Roman vol patos en humor oor die verwerking van verlies, met karakters wat lééf.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R195,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.