Skattige briewe van tandemuis gryp verbeeldings aan

Liewe Anneke
Laat ek myself eers voorstel: My naam is Kardoemsie en ek is jou tandemuis. My werk is om namens Koning Kaspersie al die mooiste en gesondste tandjies in te samel. Ons gebruik hierdie tandjies in die kasteel vir allerhande wonderlike dinge.

Dít was die begin van vele briewe wat Michelle van der Merwe laatnag, meestal met ʼn lang gaap en een oog half toe, namens die tandemuis aan haar sesjarige dogter Anneke geskryf het.

Al was dit soms ʼn uitdaging, wóú Michelle dit doen – om ʼn liefde vir lees by haar dogter te kweek én iets te skep wat Anneke se verbeelding sou prikkel.

“Ek het een keer ʼn artikel gelees wat verduidelik dat kinders met ʼn ryk verbeelding baie beter op skool presteer en abstrakte konsepte makliker begryp,” het Michelle in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Daarom is dit vir haar belangrik om haar kinders van jongs af aan boeke en stories bloot te stel. Sy vertel ook dat haar dogter se haasbekfase ʼn gulde geleentheid was om iets spesiaals te skep.

“ʼn Mens het tydens jou kinders se vormingsjare hope geleenthede om vir hulle ʼn skatkis van herinneringe bymekaar te maak vir ‘eendag’,” meen sy. “Ek het hierdie kwessie as so ʼn geleentheid gesien. Ek wou graag vir my dogter iets gee waaraan sy later jare met ʼn glimlag kan terugdink.”

Dié briefies oor Kardoemsie, Generaal Streepstert en Kaptein Pokkels het toe nie net vir Anneke laat glimlag nie. Dit het glo ook die verbeelding van haar klasmaats en juffrou geprikkel. Michelle vertel dat Anneke se juffrou een dag by die skool op een van die tandemuis se briewe afgekom het.

“Toe ek een middag vir Anneke by die skool gaan haal het, het sy my eenkant toe geroep en vir my gevra waar ek die stories kry,” onthou Michelle. “Sy wou nog stories gehad het. Ek het ʼn grappie gemaak en gesê dat my kind eers nog ʼn tand moet wissel voor daar nog stories kan wees.”

Jy sien, met elke tand wat Anneke gewissel het, het Kardoemsie dit kom haal en dan ʼn briefie gelos. Deur sy briewe het Anneke uitgevind dat hy amptelik as die tandemuis aangestel is. Kardoemsie het ook komiese oomblikke van sy vrou en 23 kinders gedeel en raad gegee oor hoe om jou tande pêrelblink te borsel.

Michelle sê die briewe het doelbewus ʼn opvoedkundige aanslag wat op mondhigiëne en gesonde eetgewoontes fokus. Om tande te borsel is een van die eerste selfversorgingsroetines wat kinders aanleer en vir baie van hulle kom dit nie natuurlik nie.

“Ek dink enige ma sal saamstem dat ons seker daagliks vir kinders aan goeie higiëne moet herinner. Van jongs af borsel ons soggens en saans tande, gaan na geskeduleerde tandartsafsprake en leer ons ons kinders op ʼn subtiele manier om verantwoordelikheid vir hulle gesondheid te neem,” sê sy.

Michelle het deurgaans die voordele van groente en vrugte beklemtoon en die nadele van suiker uitgewys.

Onthou om elke oggend en elke aand elke tandjie vyf keer te borsel. Op en af met sirkelbewegings, en heen en weer. Eet al jou groente en vrugte, en moenie te veel lekkergoed eet nie. Suiker maak jou tandjies swak en vrot.
Ons is sommer baie trots op jou dat jy so mooi na jou tandjies kyk.
Liefde
Kardoemsie, die tandemuis

Met die opskudding wat die tandemuis se briewe veroorsaak het, wonder ʼn mens of Michelle êrens met die sak patats moes uitkom? “Dit is nogal ʼn interessante storie,” sê sy.

“Kardoemsie bly in die veld voor ons huis. Net voor die winter moes ons voorbrande doen en een aand het die brand toe bietjie verder gegaan as wat ons beplan het. My dogtertjie was histeries omdat Kardoemsie se huisie gaan afbrand. Ek het vinnig verduidelik dat Kardoemsie ʼn winter- én ʼn somerhuis het en dat hy en sy gesin reeds vertrek het na hulle somerhuis – soos die swaeltjies.

“Sy was nie baie beïndruk met my lomp verduideliking nie … Later die aand, toe ek haar in die bed sit, het sy met haar groot blou oë baie ernstig na my gekyk en gesê: ‘Mamma, Kardoemsie bly seker nou by Kersvader, nè?’ en toe geknipoog en geglimlag. Ek het geweet, sy weet, en sy het geweet dat ek weet. Ons het mekaar ʼn drukkie gegee en saam-saam hou ons die storie van Kardoemsie ‘werklik’ omdat kleinsus binnekort sal begin tandjies wissel.”

Nadat Anneke se juffrou die tandemuis se briewe in haar tas ontdek het, het die stories sommer vinnig groot opwinding veroorsaak. Michelle het toe besluit om die briewe bymekaar te maak en te publiseer.

In Briewe van die tandemuis kan lesers uitsien na briewe soos “Operasie Tandsoek”, “Rommel Rot kom sy moses teë”, “Koning Kaspersie verjaar” en “Rommel Rot en Sriminkel word gevang”.

Briewe van die tandemuis kos R180 en is aanlyn by Kraal Uitgewers beskikbaar. Dit is deur Michelle van der Merwe geskryf en Carina van Zyl het dit geïllustreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.