Skool kan munt slaan uit hoof se boek

Jan van Staden, die man wat onlangs as die nuwe hoof van Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen aangestel is (Foto: Verskaf)

Jan van Staden, die man wat onlangs as die nuwe hoof van Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen aangestel is, het dit sommer met die intrapslag duidelik gemaak dat hy hier is om ʼn verskil te maak.

Van Staden het tydens die afsonderingstydperk sy boek Die Noagvoël klaar geskryf en besluit om dit aan die skool vir ʼn geldinsamelingsprojek te skenk.

Hy het met die boek begin nog voordat hy geweet het hy gaan vir die pos by Ben Vorster aansoek doen.

“Ek het die boek geskenk uit dankbaarheid teenoor die Here en wat Hy al in my lewe gedoen het,” sê Van Staden. “ʼn Mens wil net altyd hê en ek het besluit dat dit tyd is om iets aan die gemeenskap terug te gee.”

Weens die Covid-19-pandemie het talle ouers hul werk verloor en kon hulle dus nie skoolfonds betaal nie. Dit het uiteraard veroorsaak dat die skool nie meer sy maandelikse uitgawes kon dek nie. Van Staden het dit dus goed gedink om sy boek te skenk sodat die skool hiermee ekstra geld kan insamel om rekeninge, salarisse en ander uitgawes te betaal.

“Ons dank mnr. Van Staden vir die onbaatsugtige daad omdat dit uit sy skrywerspen kom en maande se werk vereis het,” sê Alminda Bacchioni, die skool se sosialemediabestuurder. “Dit is nie net ʼn seëning vir die skool nie, maar ook vir die hele gemeenskap van Tzaneen.”

Van Staden is op 6 Oktober 1969 in Pretoria gebore. Hy was agt jaar oud toe sy gesin na Parys in die Vrystaat verhuis het. Daar het hy sy laerskool- en hoërskoolloopbaan voltooi.

Van Staden het op skool al geweet dat hy lief is vir lees en skryf. Wanneer die ander leerders steen en been oor opstelle en skryfwerk gekla het, het sy hande gejeuk van opgewondenheid en kon hy sy kreatiewe skryfvermoë uitleef.

“Dit is geweldig stimulerend om kreatief te wees,” vertel Van Staden. “Ek geniet dit om myself in elke karakter te probeer inleef en as ek nie van iets hou nie, kan ek dit eenvoudig verander.”

Van Staden het na skool onderwys aan die Goudstadse Onderwyskollege (GOK) studeer. Ná sy studie het hy vir ʼn jaar by Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark skool gegee. Daarna het Van Staden sy verpligte jaar van Nasionale Diensplig voltooi.

Ná sy dienspligjaar het hy ʼn onderwyspos by Hoërskool Frans du Toit in Phalaborwa aanvaar. Dit is ook hier waar hy sy vrou, Charmaine, ontmoet het. Hulle het later na Krugersdorp verhuis waar albei onderwysposte by Hoërskool Monument aanvaar het. Van Staden was eers die departementshoof van Geografie en later adjunkhoof. Hy het tussendeur verder studeer en sy meestersgraad in besigheidsbestuur by die Southern Business School in Krugersdorp verwerf. Van Staden het vir ʼn tyd in die private sektor as ʼn vulstasieontwikkelaar gewerk, maar het besef dat sy roeping en geluk in die onderwys lê.

Vir jare het hy ook die droom gekoester dat hy eendag soos Elmar Steyn ʼn skool kan bestuur én sy passie as skrywer kan uitleef. Dié droom is nou bewaarheid. Uit die samesyn met ander kry hy baie van sy idees en inspirasie.

Die skryfproses is vir hom ʼn manier van ontsnapping uit die werklikheid waar ʼn mens min beheer oor situasies en dinge het. Dit is ook wonderlik om te ervaar hoe sy skryfwerk ʼn positiewe invloed op ander mense het.

Hy het ongeveer drie jaar gelede sy eerste boek Halfmens die lig laat sien. Dit is ʼn skoolroman wat ʼn blik op die lewe van tieners en hul denkwyses bied. Van Staden sê hy het positiewe terugvoer oor die boek ontvang en daarom besluit om nog een te skryf.

Die Noagvoël het ontwikkel nadat ek Francine Rivers se trilogie (The Mark of the Lion) gelees het. Ek wou ook ʼn Christelike boek skryf wat die leser terugneem na die tyd toe Jesus op aarde was,” verduidelik hy.

Hoewel daar nie ʼn klinkklare storielyn was nie, het hy een oggend ʼn teksgedeelte in Matteus gelees wat hom geïnspireer het.

“Dié teksvers was die inspirasie vir die hoofkarakter en die boek het hieruit ontstaan. Ek noem bewustelik nie die vers nie, want dit sal die slot van die verhaal bederf,” sê Van Staden.

Oor die boek

Die dag het begin soos enige ander in Tiberias – die idilliese hawedorp langs die See van Galilea.

Opgewonde het die inwoners gestroom na die nuutgeboude opelugteater teen die hang wes van die dorp. Dit was ʼn spesiale dag want ʼn hooggeplaaste van Rome sou die inwoners toespreek en saam met hulle die tiende verjaardag van die dorp vier. Herodes Antipas het seker gemaak al die inwoners van die dorp is daar.

Dit het stil geraak toe Lucius Aelius Sejanus instap. Saggies het sommige gefluister dat hy instaan vir keiser Tiberius. Dat hy dalk die volgende keiser van die magtige Rome gaan word.

Min het hulle geweet wat in sy hart broei. Nooit, in hulle wildste drome sou hulle kon dink hoe dié dag sou verloop nie.

Sejanus se optrede sit gebeure aan die gang wat verreikende gevolge inhou – nie net vir die hele Romeinse Ryk nie, maar ook vir verskeie Israeliete. Die rebelse Abigail is een van hulle en haar rebellie teen alle vorme van gesag bring haar in direkte konflik met die bloeddorstige Sejanus. Sy verdwyn misterieus en dit ruk haar geheime liefde se lewe totaal en al uit sy gemaksone. As Romeinse kaptein, gestasioneer in Galilea, moet Claudius Ianuarius Celsus die belangrikste keuse van sy lewe maak.

Vergeet van Abigail of neem wraak. Die pad na vryheid is nie altyd so duidelik nie…

Die Noagvoël kos R250, posgeld uitgesluit. Om die boek te koop of by die geldinsamelingsprojek betrokke te raak stuur ʼn e-pos na Jan van Staden by [email protected] of besoek Groep 7 Drukkers en Uitgewers se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.