Skryf Afrikaans van A tot Z

Skryf AfrikaansSedert die verskyning van die titel in 2003 was daar veranderinge op die wêreldtoneel, in die Suid-Afrikaanse mediabedryf, aan die taalfront en in die praktyk van wetenskaplike teksversorging wat die hersiening van dié toonaangewende stylgids genoodsaak het.

Een daarvan was die verskyning van die tiende, omvattend herbewerkte uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls in 2009. In die hersiene uitgawe van SAAZ word spesiaal aandag geskenk aan die korrekte, wetenskaplike gebruik van elektroniese (naslaan)bronne.

As gevolg van die verskyning van Afrikaanse poniekoerante op die plaaslike mediatoneel word daar ook kortliks gekyk na die universele verskille in die onderskeie taalbenaderings van hoofstroom- en poniekoerante.

Die bestaande twee dele van SAAZ is dus hersien en bygewerk, en ’n derde, kort deel bygevoeg oor die praktyk van professionele, wetenskaplike teksversorging.

SAAZ bevat ook ’n lys voorbeelde en verduidelikings van 100 van die algemeenste soorte foute wat in Afrikaanse skryf- en redigeerwerk gemaak word, asook ’n lys Kaapse vernakulêre Afrikaanse woorde en uitdrukkings (Kaapsevlakteafrikaans).

Skryf Afrikaans is ‘n onmisbare naslaanbron vir joernaliste, reklameskrywers, teksversorgers, vertalers, leerders, studente en almal wat keurig, korrek en effektief in Afrikaans wil kommunikeer.

Oor die outeur:
Dalene Müller, wat die aanvanklike outeur van Skryf Afrikaans (SAAZ) was, het in 1992 as senior subredakteur by Die Burger besluit om die handige taalgids saam te stel. Met haar meer as 30 jaar uitgebreide ervaring toe, het sy in 2003 die eerste uitgawe van SAAZ die lig laat sien. Dalene is in Desember 2007 ná ’n kort siekbed oorlede.

Die hersiener van SAAZ, Sebastian (Faan) Pistor, is ’n senior teksversorger van Media24. Hy het 30 jaar ervaring in die uitsaaiwese, uitgewersbedryf en koerantwêreld. Pistor het al verskeie boeke uitgegee, was verslaggewer, teksversorger en taalredakteur van Die Burger en het ook ’n paar jaar ondervinding as senior teksversorger by die Kaapse poniekoerant Son. Afgesien van sy versameling langspeelplate, sy belangstelling in die geskiedenis van Robbeneiland en die sang en lewensgeskiedenis van die tenoor Gé Korsten, is die praktyk van professionele, wetenskaplike teksversorging die ander groot passie in sy lewe.

Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.