Skrywer pak kindermolestering in jongste boek

fanie-viljoen

Fanie Viljoen noem dit die belangrikste boek wat hy nog ooit geskryf het. ‘Die dag toe die draak kom’ is vir elke ouer, grootouer, onderwyser, sosiale werker, sielkundige wat met kinders werk. Foto: Fanie Viljoen/Twitter.com

Kindermolestering is ʼn skrikwekkende werklikheid in Suid-Afrika: een uit elke drie Suid-Afrikaanse kinders word in ’n stadium voor die ouderdom van 17 seksueel misbruik.

Om sake te vererger is dit boonop nie ’n maklike onderwerp vir enige iemand om met jong kinders te bespreek nie.

Dit het die jeugboek-skrywer Fanie Viljoen laat besluit om sy skrywerstem te gebruik om die kwessie aan te pak en die gemeenskap hieroor in sy jongste boek Die dag toe die draak kom in te lig.

“Ek het ’n paar jaar terug die rolprent Spotlight gesien wat handel oor joernaliste wat seksuele misdrywe ondersoek het en Suid-Afrika het ook op die lys verskyn waar van hierdie misdrywe gepleeg is.

“Later het ek ook bewus geword van mense in my eie vriendekring wat in hulle kinderjare seksueel misbruik is. Dit het my laat besluit om iets daaraan te doen en ’n boek daaroor te skryf.”

Viljoen sê dit was beslis nie ’n maklike boek om aan te pak nie maar gelukkig is dié Bloemfonteinse skrywer reeds bekend daarvoor dat hy nie wegskram van moeilike onderwerpe in sy jeugboeke nie.

Hy het die boek soos ’n speurverhaal geskryf sodat kinders self die tekens kan sien van wanneer iemand hulle begin gereedmaak (groom) vir seksuele misbruik. Dit is eenvoudig en maklik verstaanbaar geskryf maar dra soveel as moontlik inligting oor kinders op ’n sensitiewe manier oor.

Die dag toe die draak kom is gemik op kinders tussen die ouderdomme van ses tot 12 jaar en bevat ʼn nuttige gids vir kinders, ouers, onderwysers en versorgers oor gevaartekens wat herken kan word en wat om te doen as seksuele misbruik vermoed word.

“Hierdie boek is uit en uit geskryf vir ’n pa of ʼn ma om dit saam met jou kind te lees sodat hulle vrae kan beantwoord en hulle deur die storie kan help,” voeg Viljoen by.

Die dag toe die raak kom het ’n weergawe vir seuns en vir meisies. In die boek vir seuns is Kevin die hoofkarakter en in die weergawe vir meisies is dit Kyla wat deur haar ouer suster Abby gewaarsku word teen die draak in hulle huis. Die boek is ook in Engels beskikbaar.

Viljoen sê volgens die navorsing wat hy vir die boek gedoen het, is daar tans in Suid-Afrika eintlik meer seuns wat seksueel misbruik word as meisies.

“Die Sentrum vir Geregtigheid en Misdaadvoorkoming se Optimus-studie, wat tussen 2013 en 2015 gedoen is, wys dat 35,4% van Suid-Afrikaanse kinders word in een of ander stadium in hulle kinderjare seksueel misbruik. Van hierdie syfers is 36,8% seuns en 33,9% is meisies.

“Nog iets wat uiters kommerwekkend is, is dat 43% van hierdie seksuele misdrywe deur kinders op ander kinders gepleeg word. Ons moet besef dit is nie net volwassenes wat die goed doen nie, daar is ook kinders wat dit aan ander kinders doen.”

In 60% van die gevalle van misbruik is dit iemand in ʼn mens se eie nabye sosiale sirkel wat vir die misbruike verantwoordelik is.

“Dit is waarom dit vir my belangrik was om ekstra inligting aan die agterkant van die boek by te voeg vir kinders, ouers en selfs onderwysers om hulle te help om hierdie ‘drake’ van die samelewing te herken.

“Dit kan ’n pa, ’n boetie, ’n skoolhoof, iemand by die kerk of iemand wat vir jou ekstra wiskundeklasse gee wees wat dit doen en dit kan ook ’n vrou wees.”

Kenners soos dr. Marianne Kotzé, wat elke dag werk met kinders wat seksueel misbruik is, en Edith Kriel, die uitvoerende direkteur van Jelly Beanz Inc, het Viljoen bygestaan met inligting en antwoorde vir sy boek.

“Iets wat ek nie besef het nie is dat wanneer ’n ouer, byvoorbeeld ’n ma, besef dat haar kind misbruik word deur ’n familielid, moet hulle dit aanmeld.

“As jy dit nie aanmeld nie en dit gebeur wel onder jou dak kan jy aangekla word en aanspreeklik gehou word daarvoor.

“Jy het nie opsie of jy dit wil of nie wil aanmeld nie – jy moet dit aanmeld. Jy sal nie aanspreeklik gehou word indien daar bevind word misbruik het nie plaasgevind nie.”

Viljoen sê hy hoop sy boek maak kinders, ouers en onderwysers se hande net sterker.

“Ek glo dit is makliker om met kinders oor hierdie onderwerp te gesels as jy ’n storie as wegspringplek het en kinders hulleself in daardie storie kan sien.

“Ek het probeer om dit verskriklik sensitief te skryf want ek besef hierdie is ’n verskriklike moeilike tema maar ek glo hierdie boek gaan ouers, onderwysers, oumas en oupas en enige iemand wat iewers met ’n kind moet werk vir wie hulle baie lief is, help om te keer dat die kind een word van daardie derde kinders wat misbruik word in ons land.”

fanie-viljoen-die-dag-toe-die-draak-kom

‘Die dag toe die raak kom’ het ’n weergawe vir seuns en vir meisies. Die boek is ook in Engels beskikbaar. Foto: Fanie Viljoen/Twitter.com

Benodig jy hulp of vermoed jy ʼn kind word seksueel misbruik:

Gebruik hierdie webblaaie vir hulp of ekstra inligting:

Of skakel hierdie nommers:

  • Suid-Afrikaanse Polisiediens – Crime Stop: 08600 10111
  • Suid-Afrikaanse Polisiediens – SMS misdaadlyn: 32211
  • Departement van maatskaplike ontwikkeling: 0800 428 428 (dit is ʼn 24-uur hulplyn)
  • Indien jy ʼn maatskaplike werker benodig, bel *120*7867# vanaf enige selfoon. Dit is gratis.
  • Suid-Afrikaanse Kinderwelsyn: 087 822 1516
  • Childline: 0800 055 555
  • Vroue en Mans teen Kindermishandeling: 011 789 8815

Luister ook na Fanie Viljoen se onderhoud met Maroela Media boaan hierdie berig. Hy gesels met Esté Meyer Jansen oor sy boek Die dag toe die draak kom en gee ook van die gevaartekens waarvoor ʼn mens moet uitkyk as jy vermoed ʼn kind word seksueel misbruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sonskyn ·

Dis nou ‘n jammer dat hierdie boek nie ‘n paar jaar terug (of selfs toe ek jonk was) gepubliseer was nie. Ek en my seuntjie van 8 is albei die 1 uit 3 kinders wat dit ervaar het. Gelukkig het my seuntjie behandeling ontvang en toon geen snaakse gedrag meer nie. Ek sukkel maar nog daagliks met wat gebeur het! Ek dink ek sal maar nogsteeds die boekie aanskaf en vir my lat leus – dit kan tog nie skade doen nie.

Saartjie ·

Sterkte, Sonskyn, ek wens ek kon vir jou ‘n wonderpleister gee om die herinneringe en die seer weg te neem!

Lida ·

Elke keer as ek die woord hoor ruk alles in my. Ek is amper 58 jaar niemand my ouers Man en kinders weet van dit wat my oupa aan my gedoen het van so 9 tot 13 jaar oud. Ek het my kinders en nou my kleinkinders met alles in my beskerm. Glo my ek sal een dood maak wat iets aan hulle doen. Dis iets wat n groot gat in jou los.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.