Skrywer van eerste Afrikaanse boek vereer

Lede van die Riversdal-FAK-Kultuurnetwerke en nabygeleë Voortrekkerkommando het die naweek hulde aan Louis Meurant, die skrywer van die eerste boek in Afrikaans, gebring. v.l.n.r. Ena Geldenhuys, Melanie Cloete, Elizma Smith, André Louw, Juanine Kok, John Jackson, Jan Smith, Karien Coetzee en Sandra Holloway by Meurant se graf in die Meurant-begraafplaas in Riversdal.

Louis Henri Meurant het in 1861 nuwe deure vir Afrikaans geopen met die publikasie van sy boek in dié taal. Om hulde aan sy baanbrekerswerk te bring, het die FAK die naweek ʼn granietsteen by sy graf gelê.

Die FAK-Riversdal-Kultuurnetwerk het sy graf skoongemaak en ʼn granietsteen met die naam van die eerste Afrikaanse boek, waarvan hy die outeur was, daarop gegraveer.

Seugnet van Zyl, kommunikasiebestuurder van die FAK, het aan Maroela Media verduidelik hoe belangrik dit is om hulde te bring aan diegene wat aan Afrikaans help bou het.

“Ek dink dis juis iets wat die kultuurnetwerke of selfs die FAK so uniek maak. Daar is sekere figure wat in die geskiedenis uitstaan en ontsettend baie aandag gekry het. Dit is belangrik dat die FAK ʼn soeklig op minder bekende, maar steeds belangrike, figure soos Meurant laat val.”

Meurant is op 19 Februarie 1812 in Kaapstad gebore. In sy leeftyd was hy ’n krygsman, tolk, akteur, parlementariër, landdros, joernalis en tuinboukundige, maar dit was as skrywer in Afrikaans waarvoor hy vandag veral onthou word. As joernalis het hy hom sterk vir mediavryheid beywer in ’n tyd toe dit aan bande gelê is, asook vir die vestiging van Afrikaans as skryftaal reeds voor die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875.

Op die ouderdom van vier is Meurant se ma oorlede, en op 14 het sy pa ook afgesterf. Bure van die Meurant-gesin, Marten en Francina Smit, het hom aangeneem en so het hy Afrikaans leer praat.

Meurant se pa het voor sy afsterwe geldelike voorsiening vir sy seun se toekoms gemaak deur £300 aan George Grieg, die eerste onafhanklike drukker in Suid-Afrika, te voorsien vir ʼn nuwe drukpers in ruil vir Louis se opleiding in die drukkersbedryf.

Luidens Elizma Smith, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Kaap, het ʼn joernalistieke loopbaan gevolg.

“Meurant het by verskeie koerante aanvanklik as joernalis, maar later ook as redakteur en uitgewer gewerk. Hy was onder meer die stigter van die Grahamstown Journal. Hy skryf talle artikels vir koerante in Afrikaans en maak gebruik van verskillende skrywersname soos Klaas Waarsegger, Platjie Wysneus, Sabiena Zeekoeygat en Elsie Beuzemstok.”

Luidens ʼn persverklaring inspireer ʼn taalstryd tussen die westelike en oostelike distrikte in die Kaapkolonie Meurant om die skrywerspen op te tel.

“Meurant tree toe tot die stryd en publiseer onder die skrywersnaam Klaas Waarsegger ’n samespraak tussen Klaas en Jan Twyfelaar in hul eie taal Afrikaans in The Cradock News. Hierdie samespraak raak so gewild onder lesers dat die verkope van die koerante buitengewoon toeneem en daartoe gelei het dat die uitgewers ’n aparte blad, Het Cradockse Nieuwsblad, begin en waarin die samespraak voortgesit is.”

Op 6 April 1861 word ’n afsonderlike boek met die titel Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar over het onderwerp van afscheiding tusschen de Oostelyke en Westelyke Provincie, bekendgestel. Hierdie publikasie word die heel eerste boek wat in Afrikaans verskyn.

  • FAK-Kultuurnetwerke in gemeenskappe bied aan inwoners met ’n passie vir die Afrikaanse taal, geskiedenis en erfenis die geleentheid om hierby betrokke te raak in hul eie gemeenskappe. Indien jy by die Riversdal-FAK-kultuurnetwerk wil aansluit, kontak Elizma Smith, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Kaapprovinsies, by [email protected] of jy kan as vriend van die FAK aansluit by fak.org.za en so ’n bydrae tot die bewaring en uitbou van ons erfenis lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Die naam van die boek lyk dan Nederlands. Is dit dan Afrikaans?

Durban Afrikaner ·

So ‘n Afrikaanse organisasie vereer ‘n Afrikaanse persoon, oor die eerste Afrikaanse boek…. Met ‘n Engelse grafsteen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.