Skrywers­onder­houd: Theo Kemp gesels oor ‘Strafjaart’

Theo Kemp het Maroela Media meer vertel van sy jongste boek ‘Strafjaart’.

In Theo Kemp se jongste boek Strafjaart laat ʼn foonoproep uit Pollsmoor ʼn wit middeljarige navorser se lewe kantel.

Hy word uit sy gemaksone geruk wanneer sy laatlam-tannie, Lizette, in dié tronk beland. In die wagkamer van Pollsmoor word die navorser ingetrek by die lewens van ʼn versameling van vreemde, kleurryke karakters.

“Sy ontmoetings met die karakters noop hom om self oor sy lewe te begin nadink. Hierdie is ʼn reis deur die gevangenis, maar ook ʼn reis van die verteller na homself toe,” vertel Kemp.

Die ontstaan van Strafjaart is so te sê ʼn storie opsigself: “Die verhaal het redelike biografiese omstandighede want ʼn familielid van my het regtig in 2015 in Pollsmoor beland.

“Ek het nie gedink ek gaan ʼn boek daaroor skryf nie, ek wou haar aanvanklik net besoek. Ek het egter vinnig besef ek kan nie anders as om neer te skryf wat ek ervaar nie, omdat dit net so ʼn geweldige emosionele ervaring was.”

Kemp vertel hy het vinnig besef hierdie is ʼn ander wêreld en hy het iets daarvan in Strafjaart probeer vasvang.

“Jy kan nie iemand bel om uit te vind wanneer besoektye is nie, dis iets wat jy maar self moet uitvind. Dan is dit ook verskriklik belangrik wat jy saamneem, want die reëls verander byna daagliks. Jy sien hierdie persoon dan ook net vir 30 minute, maar jy wag letterlik ure in die wagkamer voordat die besoek werklik plaasvind.”

Kemp vertel ʼn bewaarder sal vinnig besluit sommige kossoorte is eenvoudig te luuks om in te vat of net boeke met ʼn godsdienstige onderwerp mag vir ʼn gevangene gebring word om te lees.

“Ek moes in ʼn stadium my eie skaamte konfronteer oor ek wat ʼn familielid daar moet besoek. Ek het ook vinnig besef vir baie van die mense wat in die wagkamer is, is dit niks anders as om ʼn geliefde in die hospitaal te besoek nie.

“Dan was my volgende vraag of die gevangenis enigsins ʼn plek van heling kan wees? Ek dink ons almal voel jy en jou familie behoort hulself te skaam omdat jy in die tronk is en dit laat my met ernstige vrae oor ons siening van tronke en rehabilitasie in hierdie land.”

In sy eerste roman Skool het Kemp sy eie naam gegee aan die navorser wat die hoofkarakter in die verhaal was. Dié boek is, onder meer, vir die Jan Rabie-Rapport- en die Universiteit van Johannesburg-debuutprys genomineer.

“Ek wou in Skool die lesers laat wonder oor wat in die storie waar was en wat was fiksie. In Strafjaart het ek dit tot ʼn groot mate weer gedoen, maar die naamlose ekverteller speel ook die rol van kamera en die lesers kan saam met hom inzoem op die navorsers se lewe en sien wat gebeur in die gange van Pollsmoor.”

Kemp sê hy wou in Strafjaart kyk na wie straf vir wie, wie is gestraf en hoekom.

“Ek het ʼn beheptheid daarmee dat ons getuienis vir mekaar se lewens moet wees. Ek is ook vas oortuig daarvan dat as ons dit begin doen, gaan ons op voetsoolvlak verandering kan bring.

“Maar ons is maar vrot getuies van mekaar, want ons sien mekaar nie regtig raak nie. As jy kan sien my storie maak vir jou sin en saak, dan gaan ons begin anders dink oor ʼn lewe.”

Kemp sê hy wou egter met Strafjaart meer gesê het as om net ʼn lewe in Pollsmoor beskryf.

“Ek hoop die verhaal vertel iets van wat dit is om nóú hier in Suid-Afrika te woon en van die kompleksiteit van ʼn lewe in dié land.”

  • Theo Kemp het met Esté Meyer Jansen gesels oor sy jongste boek Strafjaart by die Richtershuyz-gastehuis in Brooklyn, Pretoria. Luister na dié volledige gesprek boaan hierdie artikel waar Kemp vertel wat die sneller was vir die boek en van sy eie ervaring in die wagkamer van Pollsmoor terwyl hy self gewag het om ʼn familielid te besoek.
  • Strafjaart word deur Penguin Random House South Africa uitgegee. Besoek Pengiun se webwerf vir meer inligting oor dié boek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae