Slagyster

deur Rudie van Rensburg

Daar’s ʼn moorddossier op inspekteur Kassie Kasselman se lessenaar…
In die woude van die Niger-delta word Ryan Deetlefs, ʼn Suid-Afrikaanse werknemer van die geldgierige Star Petro gevange gehou deur ʼn moorddadige rebellegroep.
Haarhoff, Malan en Van Dyk Transport in Kaapstad is ʼn baie suksesvolle onderneming, en eersdaags sal die drie kollegas nóg dieper in die geld rol. Hulle het ʼn uiters lonende byverdienste, danksy SAPD-hoëlui en die Nigeriese sluikhandel. Maar hoe gemaak met Brink van Dyk en sy Taliban-kwellinge?

Carl het afgetree op sy splinternuwe olyfplaas in die Karoo. Hy’s klaar met polisiemol-dwelmhandel en die skadulewe, totdat sy voormalige bevelvoerder kom met ʼn versoek wat Carl eenvoudig nie kan weier nie – een wat hom in kontak gaan bring met Afrika se mees gewetenlose skurke. Hy’t self nie ʼn silwerskoon verlede nie…

Van dit alles moet inspekteur Kassie Kasselman – posseël- en boeremusiekhebber, alleenloper-speurder met ʼn ernstige waarskuwing op sy diensrekord – sin maak. Iemand het sleg geknoei, maar hoe hoog op strek die kwaad?

Slagyster is ʼn debuut-spanningsverhaal deur ʼn opwindende nuwe stem in die genre, en vir inspekteur Kasselman sal ons vorentoe weer ontmoet.

Oor die outeur:
Rudie van Rensburg is in 1951 in Bloemfontein gebore. Hy bgein sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad, waarna hy in 1982 medestigter en uitgewer van Bloemnuus word, en later redakteur van Die Ekonoom-saketydskrif. In 1987 verhuis hy Kaap toe en sluit hom by Sanlam se reklame-afdeling aan.
In 2008 word sy komedie Die Begrafnis (onder die skuilnaam Phil Janse) by die KKNK bekroon met die Sanlamprys vir Afrikaanse teater (beste dramaturg). Die stuk verskyn in boekvorm by Genugtig! Uitgewers. In 2009 verskyn ʼn selfpublikasie vir kleuters, Die Doempies van Tafelberg.

Rudie skilder reeds die afgelope 25 jaar en van sy werke is opgeneem in versameling in Suid-Afrika, die VSA, Duitsland, Brittanje en Australië. Hy is getroud met Lize en het drie kinders.

Uitgewer: Queillerie
Prys: R190-00*
*prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.