Sloet alleen

Paul C. Venter

Sloet Steenkamp, sy Annette, grapjas PJ Buys, Cornelia, James Kerwin – saamgeweef in ’n storie vol lag en seer en spanning wat die krag en menslikheid van die Arende-reekse na ’n verstommende nuwe hoogtepunt voer.

Dis die Tweede Wêreldoorlog en Sloet en sy vriende probeer nog steeds om die Engelse uit die Republiek te verdryf. Saam maak hulle ’n plan wat deur die Duitsers ondersteun word – hulle stuur selfs ’n duikboot na die kus van Duitswes om te kom help! Maar intussen gebeur daar dinge met mense wat Sloet laat wonder oor wat werklik belangrik is …

Oor die outeur
Paul Christoffel Venter is op 1 Desember 1947 in Johannesburg gebore, die jongste van drie seuns. Nadat hy matriek in 1964 aan Hoërskool die Burger voltooi het, het hy nege maande militêre diensplig verrig voor hy as verslaggewer by Die Vaderland begin werk het. In 1972 het hy tydskrifjoernalis by Republikeinse Pers in Durban geword. Die joernalistiek het hom die geleentheid gegee om Afrika, Europa en die Verre Ooste te leer ken. In sy eie tyd het hy ook draaiboeke vir films, fotoboeke, kleuterboeke, jeugboeke, feitelike boeke en storieboeke geskryf. Hy was ’n jaar lank verhaleredakteur van Die Brandwag.

Toe televisie in 1975 in Suid-Afrika aanland, het hy onder toesig van die ervare Jan Scholtz draaiboeke vir die heel eerste Afrikaanse dramareeks, Keertyd, geskryf. By Jan het hy soveel geleer dat hy daarna Opdrag,’n militêre dramareeks, op eie houtjie vir Kavalier-films se Bertrand Retief kon aanpak. In 1979 het hy heeltyds skrywer geword en daarna besluit om met sy gesin op Hermanus te gaan woon. In die Kaap het ’n ontmoeting met film- en televisiemaker Dirk de Villiers tot die skryf van die gewilde Arende-reekse aanleiding gegee.

Uiteindelik het Paul 25 jaar van sy lewe aan televisiedrama gewy. Hy het verskeie toekennings daarvoor ontvang, in ’n stadium self vervaardiger en regisseur geword, en van sy reekse is in die buiteland verkoop. Paul woon tans op Hanover in die Karoo.

Uitgewer: Lapa
Prys: R150,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.