Smith, Winterbach op kortlys vir 2022 UJ-prys

Die Departement Afrikaans by die Universiteit van Johannesburg (UJ) het pas sy kortlyste bekend gemaak vir die gesogte UJ-pryse, wat jaarliks in twee kategorieë, die UJ-prys en die UJ-debuutprys, en oor die grense van genres heen toegeken word.

Altesaam 66 boeke het in aanmerking gekom vir die UJ-prys, en eindelik is dit Ronelda S Kamfer se Kompoun (Kwela), SJ Naudé se Dol heuning (Umuzi), Francois Smith se Die getuienis (Tafelberg), en Ingrid Winterbach se Voorouer. Pelgrim. Berg. (Human & Rousseau) wat die kortlys gehaal het.

Die beoordelaars het ook melding gemaak van die besondere bydraes en omvangryke historiese navorsing in Marinda van Zyl se Veldhospitaal 12 (Tafelberg) en Nicol Stassen se Van Humpata tot Upingtonia (Protea).

Kamfer verras en beïndruk wat tegniese aanbod betref en met ʼn hoë vlak van vakmanskap, meen die keurders. “Die narratief in die roman is achronologies, gesplete en gefragmenteerd, en tog bly die verhaallyn van begin tot einde kristalhelder en is elke storiekomponent styfgespan soos die drade van ʼn spinnerak. Die taalgebruik is rou, organies en lê gemaklik in die monde van karakters.”

Deur Naudé se “genuanseerde verkenning van ʼn wye spektrum emosies bied hy uiteindelik troos vir die onherbergsaamheid van vandag se wêreld wat deurgaans in die bundel kortverhale na vore kom,” lui die keurders se verslag. “Die prosa in Dol heuning is liries, soepel en by tye poëties, met elke kortverhaal wat voorsien is van sy eie delikate, tóg leefbare atmosfeer.”

Smith se novelle is as “ʼn meestersklas in die karakterroman” beskryf. Sonder om te oordeel of bespotlik te maak, dissekteer Smith met fyn gevoeligheid die binnewêreld van twee karakters en neem hy die leser op ʼn innerlike reis tydens ʼn geografiese reis. “Die getuienis is ʼn bewys dat ʼn mens soms aansienlik meer met minder kan doen.”

Winterbach bied volgens die beoordelaars ʼn roman met ʼn ryk netwerk intertekste en verwysings, slim karakters, ʼn onortodokse narratiewe aanbod met sy eiesoortige klem op reis, onderwegwees en ʼn soeke na dit wat onverkrygbaar blyk te wees.

Uit die 20 debuutwerke wat meegeding het, het drie boeke die kortlys vir die 2022 UJ-debuutprys gehaal. Dié boeke is Ashwin Arendse se Swatland (Kwela), Frederik de Jager se Man op ʼn fiets êrens heen (Protea) en Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte (Naledi) deur Aryan Kaganof.

Volgens die keurders bring Arendse se debuut ʼn blik op die Malmesbury-leefwêreld. Die leser word gedwing om die klank van die taal uit dié streek in die gedigte te erken met dié dat die gedigte die eerste leksikale weergee van die bry-klank in die Afrikaanse letterkunde aanbied. Arendse se verse is dringend en onsentimenteel.

De Jager vestig hom met dié debuut as een van die heel beste essayiste in Afrikaans, meen die keurders oor dié bundel waarin De Jager die vensters oopgooi vir ʼn wye blik op wêrelde, tale, kuns en kunstenaars en geskiedenisse. “Hierdie bundel tydskrifrubrieke lees – as ʼn geheel én van rubriek tot rubriek – steeds op dieselfde vlak as van die beste korter fiksie wat daar te vind is in Afrikaans.”

“Om Kaganof se bondige teks in een genre of kategorie te plaas, is om soos met hoeksnyers te goël (juggle),” is die mening van die keurders.

Hulle sê verder dat die teks eksemplaries is van sogenaamde abjekte letterkunde deurdat literêre konvensies ondermyn en oorskry word. “Die grense tussen genres vervaag en boonop ondermyn Kaganof taal- en spelreëls en skroom hy nie om te eksperimenteer en uit te daag nie.”

Die beoordelaars vir die 2022 UJ-pryse vir Afrikaans was dr. Frederick J Botha (SPU), prof. Karen de Wet (UJ) (voorsitter), dr. Sonja Loots (UK), Ryan Pedro, prof. Marné Pienaar (UJ) en Jo Prins.

Die UJ-pryse vir Afrikaans word sedert 2000 jaarliks toegeken aan skrywers van uitsonderlike Afrikaanse boeke. Die UJ-prys vir Afrikaans is ʼn oop kategorie vir boeke van enige genre wat in Afrikaans geskryf is deur niedebutante en wat tussen 1 Januarie en 31 Desember van die voorafgaande jaar (2021, dus, in hierdie geval) verskyn het. Daarteenoor is die UJ-debuutprys geoormerk vir debute.

Die wenners van die UJ-prys en -debuutprys word op 18 April bekendgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.