Só kry hulle jong lesers aan’t lees

(Foto: Sharon McCutcheon/Unsplash.com)

Breinfoendies ding mee in olimpiades. Sportmanne en -vroue neem deel aan atletiekbyeenkomste, maar hoe wedywer dié wat leesfiks is?

Vanaf November 2019 bied die ATKV en WOW, in samewerking met Lapa Uitgewers en privaat borge, aan boekwurms die geleentheid om kragte te meet met ʼn nuwe kompetisie in die vorm van ʼn leesaflos.

Die kompetisie werk soos volg:

  • Vyf graad 10-leerders word uit elke deelnemende skool gekies.
  • Dié leerders kry dan elkeen vyf boeke wat hulle self lees en daarna aan vriende uitdeel om ook te lees.
  • Die vriende gee dan op hulle beurt die boeke aan ander om te lees.
  • Elke keer dat ’n boek gelees word, word dit aangeteken en leerders kry punte wanneer hulle boeke gelees word.
  • Deelnemers kry ook vyf kinderboeke om voorleessessies vir jonger kinders in die gemeenskap te hou, waarmee hulle nog punte kan verdien.
  • Hierdie leerders ding dus teen mekaar mee vir die meeste punte, maar ding terselfdertyd op informele vlak mee teen die leerders in naburige skole.

Die wenner word bepaal deur leerders wie se boeke die meeste gelees word gedurende November 2019 tot April 2020. Uiteindelik sal deelnemende skole se leerders verryk word en hulle sal met ’n klein biblioteek toegerus wees om ander leerders aan te moedig om ook te lees.

Foto: Verskaf

Hierdie projek is deur Gabby Olivier en die bestuur van CRK Raadgewende Ingenieurs geïnspireer wat ’n droom vir die jong leerders van Suid-Afrika het. Dié droom is om deur opvoeding en leiding ’n blink toekoms vir hulle te skep en hulle te motiveer om hard daarvoor te werk. Olivier, sy kollegas en vriende wil met kundigheid en lewenswysheid aktief betrokke raak by die lewe van jongmense wat tans ’n uitsiglose toekoms ervaar. Ná samesprekings met die Lapa-span het die idee van ʼn leesaflos ontstaan.

Vir die projek word Afrikaanse én Engelse boeke ingesluit. Afrikaanse boekpakke beloop R3 000, terwyl Engelse boekpakke R3 200 kos. Die eerste aantal boekpakke word deur CRK Raadgewende Ingenieurs en Lapa Uitgewers geborg. Afgesien van die kompetisie tussen leerders, wil CRK boonop sportmangees bevorder deur ander maatskappye en individue uit te daag om ook borgskappe toe te staan.

Maatskappye wat belangstel om hierdie projek te ondersteun deur middel van ʼn borgskap kan self die skool wat hulle wil bystaan, kies.

Borge of skole wat wil deelneem, kan enige van die volgende persone nader:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elizna ·

Absoluut mal oor die kompitiesie..
Wens dus al vroër gedoen…

Natersea ·

aag hoe wens ek ek was ‘n leerling sodat ek aan die kompetisie kon deelneem – so baie lief vir lees. Kom al jul boekwurmpies, lees dat die stof so staan! Dis vir my een van die lekkerste dinge om te doen, want ek kan my eie storie in my gedagtes optower

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.