Só lyk die wêreld van bendes

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Hoekom groei bendes steeds? Wat lok ʼn kind so jonk as twaalf na ʼn bende, en hoekom slaag sommige daarin om tog uit die kloue van die gangs te ontsnap, terwyl die leefwyse talle ander se lewens eis?

Dit is die soort vrae wat Carla van der Spuy ondersoek het terwyl sy met geharde en gerehabiliteerde bendelede in die Wes-Kaap gaan gesels het vir haar jongste boek getiteld Gangsters.

“Die bendegeweld op die Kaapse Vlakte word net erger en erger. Kinders veral is kanonvoer, hulle kan selfs nie eers net gou elektrisiteit by die kafee op die hoek gaan koop nie.

“ʼn Mens kan nie help om te vra hoe lewe ʼn mens in die omstandighede en, nog erger, hoekom tree die regering nie hier in nie,” sê Van der Spuy.

Tog het sy ook heelwat ware verhale gevind van bendelede wat hulle lewens handomkeer verander het. Talle van die mense is nou pastore wat hulle gemeenskappe bedien, ander red jong mense uit bendes en meisies uit die greep van mensehandel.

“Die rehabilitasiesyfer is skrikwekkend laag. Ek het gehoor dit is maar iets soos 2% tot 4% van misdadigers wat nie terugverval in misdaad nie.

“By Camp Joy, wat bestuur word deur pastoor Craven Engel, het hulle daarin geslaag om die rehabilitasiesyfer op te stoot tot 70%. Hulle rehabilitasiemodel vir bendelede en dwelmslawe is gegrond op ʼn program van Chicago in die VSA. Maar die manne wat hier vir hulp kom aanklop, is gewoonlik mense wat werklik hulle leefwyse wil verander.

“Die mense wat by Camp Joy gerehabiliteer word, word dan disruptors wat hulle lewens waag om ander mense uit bendes weg te lei in ʼn poging om bendegeweld op die Kaapse Vlakte te stop,” verduidelik Van der Spuy.

Sy sê mense moet besef nie een van die voormalige bendelede waarmee sy gesels het, kom uit ʼn stabiele huishouding nie.

“Die grootste ding is die afwesige vaderfigure – baie van die seuns het nie pa’s nie, of as hulle wel daar is, is hulle net afwesig.

“Van die jong seuns smag om weg te breek van die sogenaamde voorskootbeginsel, dit is ma’s wat aan die hoof van huisgesinne staan. Die seuns kry gewoonlik ʼn plek om te behoort binne ʼn bende en dan raak hulle lekker macho.”

In Carla van der Spuy se boek “Gangsters” skryf sy oor die nommers, die Franse, die vierde kamp, Sabela en die Airforce. (Foto: Verskaf)

En alhoewel die bendes in die gemeenskappe gevrees word, is daar terselfdertyd ook ʼn soort vreemde heldeverering vir hulle.

“Bendes word tog ook ʼn manier bewonder want hulle het al hierdie aardse besittings; deftige karre en handelsmerk-klere. Selfs hulle begrafnisse is iets verskriklik met skote wat afgevuur word en een bendeleier het selfs glo ʼn kis gehad wat al in die rondte in die lykswa draai. Hulle is die mense met die geld.”

Van der Spuy glo nog iets wat die bendegeweld op die Kaapse Vlakte aanvuur, is dwelmverslawing. Boonop het almal wat in hierdie omgewing woon iemand in hulle familie wat in ʼn bende was, of selfs nog ʼn bendelid is.

“Stanley Jacobs, ʼn blogger van die Kaapse Vlakte wat vir my ʼn voortreflike mens is, se gunsteling-oom is ʼn gangster, maar hy het nie self ʼn gangster geword nie want sy ouma het vir hom gesê: ‘Stanley jy is beter as dit en ons verwag meer van jou’.”

Van der Spuy meen een van die maniere om die groeiende bendegeweld in die Kaap te bekamp is om geld te belê in die Cape Flats-museum.

“Dit is ʼn splinternuwe museum wat nog nie heeltemal klaar is nie. Die museum vertel die geskiedenis van die bruin mense en hulle gedwonge verskuiwings in die 50’s en 60’s. Ek glo die verskuiwings is nog ʼn rede vir die bendegeweld wat nou hoogty in die gebiede vier.

“Dit sal ook ʼn kamer hê waar al die foto’s van kinders vertoon sal word wie se lewens deur bendegeweld geëis is. Die museum glo nou al daar sal nie genoeg plek wees vir al die foto’s teen die mure nie.”

Tog wil die museum, net soos die boek Gangsters, ook die mooi van die omgewing en sy mense wys. “Die aunties moet snoek en patats maak en besoekers neem op ʼn toer deur die omgewing.

Van der Spuy glo ook daar kan meer gedoen word om berading in die omgewing te doen. Dit is hier waar die regering geld moet beskikbaar stel sodat vrywilligers kan help om traumaberading te doen vir veral kinders wat die soort geweld daagliks aanskou.

“Die kinders het ook ontspanningsgeriewe nodig, want daar is niks nie.”

  • Carla van der Spuy het onlangs in Maroela Media se ateljee kom kuier om haar jongste boek Gangsters te gesels. Daarin vertel sy die ware verhale van die lewens van voormalige bendelede uit die Kaapse Vlakte. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Objektief ·

Die afwesigheid van die vaderfiguur is op al verskeie kere deur navorsing , selfs in VSA, genoem as n groot bydraende faktor in geweld, bende kultuur ens.. In sekere groepe in VSA is die afwesige vaderfiguur meer as 80% en ek dink ons kan anvaar dat dit in sekere groepe in SA dieselfde of erger is.

In my beroep deel ek baie metjong swart en kleurling meisies en n relatiewe hoe persentasie van hulle het kinders sonder enige vaderfiguur teenwoordig. Ongelukkig word dit deesdae deur party jongmans beskou as n presetasie om n kind te he en geen bydrae te lewer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.