Só ‘programmeer’ gewilde Tippie-leesreeks kinders vir sukses

José Palmer en Reinette Lombaard. (Foto: Facebook/Tippie)

Dit het begin by ’n ma en dogter se passie vir onderwys en die wete dat ’n kind se leesvaardigheid sy leerproses makliker en meer doeltreffend kan maak.

Agt jaar later is dié bekende geïllustreerde kinderleesreeks een van die bekendste hulpmiddels om jong lesertjies oor die hele Suid-Afrika te kweek.

Die Tippie-leesreeks is die gesamentlike geesteskind van Reinette Lombaard en haar ma, José Palmer, wat saam byna 48 jaar lange onderwyservaring het.

Lombaard vertel dat haar ma se droom om van jongs af boekies vir kinders te skryf en haar eie behoefte aan leesboekies vir haar remediërende onderwyspraktyk die dryfveer agter dié gewilde reeks was.

“Toe Ilse Salzwedel die boekies sien en hoor dat net kinders in my privaat remediërende praktyk daarby baat, het sy die bal onmiddellik aan die rol gesit en ons na LAPA-uitgewers genooi,” sê Lombaard.

Dié kinderleesreeks is een van die bekendste hulpmiddels om jong lesertjies te kweek. (Foto: Facebook/Tippie)

Só is die eerste boek in die reeks, Hallo, Tippie, gepubliseer.

Die ma-en-dogter-duo wou ook ’n karakter vir hul reeks skep waarmee elke kind, ongeag ras, kultuur en taal, hom of haar kon vereenselwig. Zinelda MacDonald Meiring het toe lewe aan die Tippie-olifantkarakter gegee en Lombaard benadruk die belangrike rol wat Meiring se illustrasies in Tippie se sukses speel.

Lombaard verduidelik dat die illustrasies op elke bladsy dié progressiewe leesreeks se teks ondersteun. “Daar is ’n spesifieke klankfokus in elke boekie wat in ’n spesifieke kleur aangedui word. Elke boekie bevat ’n aantal aktiwiteite waardeur leesbegrip en nuwe woordeskat speel-speel vasgelê word.”

Danksy Tippie se prettige avonture besef jong lesertjies nie eens dat hulle besig is om te leer terwyl hulle lees nie en só word hul kontekstuele woordeskat én selfvertroue uitgebou.

“Die boekies bevat stories oor alledaagse avonture waarmee die lesertjie hom of haar kan vereenselwig. Hulle kry sommer gou groter selfvertroue en begrip deur die een ná die ander boekie te lees en vorder spoedig na die volgende ‘leesvlak’,” verduidelik Lombaard.

“Ons glo ook dat elke kind kan leer, ongeag hul sterk- en swakpunte. Daar is nie ’n reg of verkeerd nie, bloot net ’n anders. Tippie doen dinge anders. Die boeke ‘programmeer’ kinders vir sukses deur altyd die boustene en fondamente volgens ontwikkelingsmylpale en ouderdomgepaste inhoud vas te lê.”

Tippie bestaan tans uit die Leer my lees-reekse, Leer my doen – wat fokus op vroeë leer-gereedheidsvaardighede – en Tippie doen Wiskunde – wat volgende jaar verder uitgebrei word.

Tippie was verlede jaar onder die Afrikaans-topverkopers. (Foto: Facebook/Tippie)

“Leesvaardigheid en wiskunde loop hand aan hand. ’n Kind wat nie kan lees nie, kan nie wiskunde doen nie. Kinders wat op ’n jong ouderdom ruimtelike bewustheid het, asook patrone, groottes, hoeveelhede, gewig, vorms, en so meer herken, sake kan deurdink, kan redeneer en oplossings soek, het reeds die boustene vir basiese wiskundebeginsels bemeester,” sê Lombaard.

’n Splinternuwe reeks, naamlik Tippie leer klanke, word in Januarie 2023 bekendgestel en bestaan uit 26 klankboeke om ’n sintetiese klankbenadering by jong lesers te ondersteun.

Volgens Lombaard is Tippie ook trots veeltalig, daarom is al die Tippie-titels reeds beskikbaar in Afrikaans, Engels én in 50 IsiXhosa- en isiZulu-titels – wat ook volgende jaar uitgebrei sal word.

Sy benadruk ook die belangrikheid van moedertaalonderrig, veral in die grondslagfase.

“Kinders leer optimaal wanneer hulle leer om te lees en te leer in die taal waarin hulle praat, dink en bid. Moedertaal-onderrig is ongelooflik belangrik omdat dit kinders se hartstaal is en hulle sodoende baie beter met die taal kan identifiseer.”

Die ma-en-dogter-duo het verder gedurende die eerste inperking vir Tippie ’n interaktiewe aanlyn platform genaamd Curious Readers geskep wat saam met die Tippie-leesboeke gebruik word.

Zinelda MacDonald Meiring het lewe aan die Tippie-olifantkarakter gegee. (Foto: Facebook/Tippie)

Dié platform span dus die boeke en tegnologie saam in en gee vir kinders oudio-terugvoering.

Lombaard verduidelik dat só ’n platform byvoorbeeld ideaal vir ’n kind soos klein Indya-Rose Dennyschene sou wees, wat in Mei vanjaar harte landwyd gesteel het toe sy in ’n video met haar ma in Engels stry en sê dat sy Afrikaans is, ondanks die feit dat niemand in die gesin dié taal magtig is nie.

“Indya sal op dié platform sommer maklik, vinnig en speel-speel Afrikaans saam met Tippie kan leer.”

Maroela Media het ook vroeër berig dat Tippie verlede jaar onder die Afrikaans-topverkopers was. Hieroor is “Tippie se ouers” tegelyk baie opgewonde, trots en dankbaar.

“Om onder die Afrikaans-topverkopers te wees, beteken dat kinders lees – en kinders wat lees, is kinders wat kan leer. Ons is dankbaar dat ons deur middel van die Tippie-reeks ons passie vir die onderwys op hierdie wyse kan voortsit en soveel meer kinders kan bereik en ’n verskil in elkeen se lewe kan maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.