Só sê Afrikaanse lesers oor vreugde van boekklubs

Augustus was amptelik Afrikaanse Taalmaand. Die Dameskring vier egter Afrikaans heeljaar deur. Met die nuwe Taal van my Hart-projek wat vroeër van stapel gestuur is, word Afrikaans reg deur die jaar gevier met verskillende interessante aktiwiteite.

(Foto: Sarah Noltner/ Unsplash)

Om by ʼn boekklub in te skakel, gaan oor soveel meer as die geleentheid vir boekwurms om hulle liefde vir lees met ander mense te deel en aan gesprekke oor stories, karakters en boeke deel te neem.

Die goue draad wat ʼn leesgeselskap aan mekaar vasbind, is vriendskap, samesyn rondom ʼn tafel en die gevoel dat jy êrens tuishoort.

Afrikaanse lesers van reg oor Suid-Afrika en selfs vanuit Australië, het onderaan die kommentaar van ʼn Facebook-plasing deur Lekkerleesboekrak hieroor saamgestem.

Boekwurms van onder meer Bloubergstrand, Zastron, Jacobsdal, Carnarvon, Grootbrak, Tulbach, Rondebosch en Pretoria het kom sê uit hoeveel lede die boekklubs bestaan, hoe gereeld hulle bymekaarkom en wat die groep uniek of spesiaal maak.

“Daar is seker nie veel wat ons uniek maak nie, maar ons hou almal baie van lees, stories, lekker lag en kuier,” meen Susan Jordaan van Boekers, ʼn leesgroep in Durbanville.

Susan Openshaw Wilsenach, sekretaresse van die Kemptonpark Leeskring, skryf: “Ons leeskring is vir ons baie belangrik en ʼn hoogtepunt in baie van die lede se lewens. Regtig ʼn lewendige en aktiewe groep.”

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Maandelikse ontmoetings, kleiner groepe en gesellige kuiers blyk die algemeenste onder plaaslike leeskringe te wees.

Annaline O’Kennedy Slabbert, ʼn lid van Shades of 50 Readers, sê dié leesgroep bestaan uit 15 lede wat almal ouer as 50 is.

“Ons kom elke maand bymekaar. Dan word daar geëet, wyn gedrink en gesels oor wat ons gelees het. Almal praat soms gelyktydig, en ons klomp kan nogal luidrugtig raak.”

Die Paper Dolls in Melkbosstrand het tien lede wat ook een keer ʼn maand ontmoet. Linda Potgieter, wat ʼn lid van die groep is, sê hulle hou daarvan om ʼn kleiner groep te wees. “Om ʼn Paper Doll te wees, moet jy van lees, wyn drink en lekker eet hou. Daar moet ook ʼn plek vir nog iemand in die groepwees, want ons verkies om net tien lede te wees.”

Volgens Rina Coetzee Gous van Hoofstuk 11 in Pretoria, word die aantal lede wat by hierdie boekklub inskakel ook beperk, anders pas almal nie gemaklik rondom die etenstafel in nie.

Wanneer Hoofstuk 11 bymekaarkom, gesels hulle land en sand. Eers oor boeke en dan oor allerlei ander dinge. “Ons is ʼn heerlike gemengde groep wat gesels baie lekker maak. Ná al die jare weet jy al wie hou van dieselfde boeke as jy.”

Rina sê die boekklub raak soms kreatief ook deur temas uit boeke by die geleentheid te betrek.

Foto: Verskaf

“Elke maand bespreek elkeen wat hulle gelees het. Ja, daar is altyd wyn en ja, daar is altyd lekker kos. Iemand het een aand net uit Tannie Maria se boeke gekook, ʼn ander persoon het ʼn Karoo-ete uit een van Deon Meyer se boeke voorberei, en ek het een maand ʼn vol Indiese ete saam met The Tearoom gedoen.”

Hoewel die meeste boekklubs om die beurt Afrikaanse en Engelse boeke lees, skryf Susanna Salvage uit Perth in Australië dat sy daar deel van ʼn Afrikaanse boekklub is wat slegs in dié taal lees. “Ons lees net Afrikaanse boeke. Dit is ʼn manier om onsself te dwing om die taal lewendig te hou in ʼn Engelse land.”

Die meeste lesers se reaksie het daarvan getuig dat dit vir hulle groot vreugde verskaf om by ʼn boekklub in te skakel. Sommige mense reis ver en ander moet spesiaal reëlings tref om daar te wees, maar doen sal hulle dit doen omdat dié boekgesprekke saam met ander leesgieriges vir hulle onontbeerlik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.