Sowaar, sowaar, Van Hunks is ’n towenaar!

Roelf van Rensburg

Van Hunks se storie het jy mos gehoor,
maar het jy geweet dat die ou glo kon toor?
En hoeveel twak het hy die dag gerook,
en was hy ‘n mens of was hy ’n spook?

Met speelse, humoristiese teks en prettige, verbeeldingryke illustrasies blaas Roelf van Rensburg en Theo Krynauw moderne woema in ’n tydlose legende – die verhaal van die rookwedstryd tussen Van Hunks en die Duiwel. Volgens oorlewering het die eertydse Windberg in die Kaap as gevolg van dié gerokery die naam Duiwelspiek gekry, en is die twee karakters se gestook ook die oorsprong van die digte wolkkleed wat Tafelberg so dikwels bedek.

Wat Van Rensburg se weergawe van die tradisionele verhaaltjie onderskei, is die tong-in-die-kies “voorverhaal” wat aan die bekende uiteinde vasgeknoop word: In ’n sewentigtal kwatryne word vertel hoe die pyprokende Van Hunks in die eerste plek in die Kaap beland het – en wat sy rookmanie tot so ’n dawerende crescendo gedryf het. Die feit dat hy oor toorkragte besik wat hom onsterflik maak is ’n bron van eindelose frustrasie vir Van Riebeeck en sy kompanjie… maar beslis die kern van ’n kat-kom-weer-scenario wat lesers sal laat skater.

As jy nog nie die storie Van Hunks en die Duiwel gehoor het nie, moet jy hierdie boek lees, so waar as wat Tafelberg plat is. Ken jy dit wél, sal jy hierna opnuut jou oë spits wanneer Duiwelspiek die dag onder ’n wolkkombers verdwyn.

Oor die outeur en illustreerder
Roelf van Rensburg is ’n skrywer en oud-uitgewer. Hy woon aan die Natalse Suidkus saam met sy vrou, die skrywer Ettie Bierman.

Theo Krynauw het ’n BA-graad in Inligtingsontwerp en was van kindsbeen af dol oor “prentjies maak”. Wanneer hy nie besig is om te illustreer nie, werk hy ook as vryskut animasiekunstenaar en grafiese ontwerper.

Ideaal vir voor- of selflees, 6–9 jaar

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R110-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.