Luister: ‘Speurhond Willem’ se ma kom kuier


Elizabeth saam die regte Willem.

Elizabeth saam die regte Willem. Foto: Facebook

Die bekende skrywer, Elizabeth Wasserman, wat bekend is vir haar kinderboeke soos Speurhond Willem en Anna Atoom, het Maroela Media kom besoek tydens haar skrywerstoer in Gauteng.

Prof. Elizabeth Wasserman (soos haar studente haar ken) het saam met haar twee broers en suster in die Vrystaat grootgeword. “Dit was ʼn baie ryk verbeeldingswêreld met baie vryheid. My broers het altyd vir my die mees absurde stories vertel – daai verbeeldingswêreld was groot en oop gewees.”

Sy sê hul huis was vol boeke en haar liefde vir lees is al van kleintyd gekweek. “My ma het altyd vir ons liedjies gesing en stories vertel, iets waaroor ek so dankbaar is.” As kind was sy ook baie lief vir lees en skryf, en is selfs deur ʼn onderwyser aangeraai om eendag boeke te skryf. “Daai liggie is destyds reeds aangeskakel en dit was ook my droom om te skryf.”

Sy het nie dadelik by skryf uitgekom nie, want sy het toe ná skool medies by Kovsies gaan studeer. “Ek het medies gaan studeer weens ʼn liefde vir wetenskap en omdat ek mense wou leer ken en verstaan. Geneeskunde is ʼn wonderlike beroep in daardie opsig – jy’s baie betrokke by mense se lewe en dit het my ook die geleentheid gebied om te reis. My beroep het vir my baie lewensondervinding gegee om oor te skryf.”

Vir Elizabeth, wat spesialiseer in kinderboeke, is dit belangrik om kinders te vermaak met haar boeke. Sy meen dat kinders op ʼn jong ouderdom blootgestel moet word aan boeke en dat ouers en onderwysers ʼn opvoedingstaak het. “As jy nie as kind reeds hierdie vaardigheid (lees) aanleer nie, gaan jy sukkel wanneer jy ouer is. Dis my werk as skrywer om lees vir kinders pret te maak.”

Luister na die podsending om te hoor hoe Elizabeth die goue middeweg tussen skryf, ma-wees en haar beroep vind.

Besoek gerus haar webwerf vir meer besonderhede oor haar boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.