Spreuke van Langenhoven

CJ Langenhoven

C.J. Langenhoven, ook bekend as “Sagmoedige Neelsie”, was een van Suid-Afrika se grootste denkers, digters en skrywers. Hy was ook kampvegter vir Afrikaans. Kom geniet sy wyshede en spitsvondighede, die beste van sy spreuke byeengebring deur J.A. Scannell.

Oor die outeur
Cornelis Jacobus Langenhoven (13 Augustus 1873 – 15 Julie 1932), beter bekend as Sagmoedige Neelsie of Kerneels het ʼn indrukwekkende rol in die Afrikaanse literêre en kulturele geskiedenis gespeel en was een van Afrikaans se grootste voorstanders. Langenhoven se bekendste werk is die oorspronklike Suid-Afrikaanse volkslied, Die Stem, wat hy reeds in 1918 geskryf het. Dele van dié volkslied is in die nuwe Suid-Afrika se volkslied vervat.

Sy skryfwerk sluit bykans elke genre in, van digkuns tot spookstories. Langenhoven het ook verskeie werke na Afrikaans vertaal, onder andere die Rubaiyat van Omar Khayyam. Hy het nuwe Afrikaanse spreekwoorde geskep en hierdie gewilde versameling deur Jan Scannell bly reeds die afgelope 20 jaar in aanvraag.

As een van die veelsydigste skrywers in Afrikaans was hy ʼn meester kortverhaalskrywer en is welbekend vir sy humoristiese en satiriese werke. Langenhoven was ook bekend vir sy vlymskerp kwinkslae en sagmoedige geaardheid. Sy denkbeeldige olifant, Herrie, was ʼn karakter in talle van sy stories. In 1929 het Langenhoven Herrie se naam selfs op ʼn klip naby Meiringspoort (buite Oudtshoorn) langs die N12-hoofweg uitgekerf, en dit staan vandag nog as Herrie se klip bekend. Herrie se klip is as ʼn nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Langenhoven is in Ladismith gebore en het later na Oudtshoorn verhuis waar hy ʼn bekende inwoner geword het. In 1897 het hy met Lenie van Velden, ʼn weduwee, getrou. Hul enigste kind, Engela, is in 1901 gebore. Teen 1914 het ʼn lid van die parlement geword waar hy die stryd om Afrikaans as ʼn amptelike taal te erken aangepak het. Hy was een van die stigterslede van die nuwe Afrikaanse koerant Die Burger. Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het in 1973 ʼn viersentseël ter ere van Langenhoven uitgereik.

Langenhoven het aanvanklik skepties gestaan teenoor die moontlikhede van Afrikaans, wat toe nog in sy kinderskoene as skryftaal gestaan het. Hy het egter later ʼn vurige voorstander geword van alles wat Afrikaans is en het as skrywer so ʼn omvangryke oeuvre opgebou (sy Versamelde Werke beslaan 16 dele) dat hy selfs beskou kan word as die man wat die Afrikaners leer lees het.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R129-95*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.