Stem vir jou gunsteling- Afrikaanse boek

Foto: Afrikaans.com

Foto: Afrikaans.com

Wat is ʼn taal sonder boeke? Jy kan nou help om die honderd Afrikaanse boeke te kies wat die grootste impak op dié taal gemaak het sedert Afrikaans 90 jaar gelede ʼn amptelike taal geword het.

Ilse Salzwedel, skrywer, joernalis en aanbieder van Skrywers en boeke op RSG, wat die lys vir Afrikaans.com se Veldtog Afrikaans saamstel, sê nadat sy lesers, skrywers, resensente en akademici vir hul menings gevra het, het sy met ʼn ellelange lys van boeke gesit waaruit sy nie kon kies nie.

Afrikaans.com is ʼn webwerf waar besoekers Afrikaans in al sy fasette kan ervaar, vier en verken. Dit dien as ’n vertrekpunt vir vele bestaande organisasies en projekte – dus, ’n nuwe bymekaarkomplek waar die publiek alle inligting oor Afrikaans kan bekom en na die regte plekke gestuur word.

“Daar is nou ʼn uiteenlopende lys met meer as 170 titels wat romans, kortverhale, digbundels, dramas en kinderboeke insluit. Ons het toe besluit om aparte lyste op te stel vir prosa, poësie en drama, en 115 romans en kortverhaalbundels verskyn tans op die prosa-uitskieterlys,” vertel Ilse.

Sy sê dié projek wys dat Afrikaanse lesers baie én wyd lees, en ook ver terug in die Afrikaanse letterkunde-skatkis. “Die oudste boek op die lys is Jochem van Bruggen se Ampie wat in 1925 verskyn het en op meer as een bydraer se lysie van onvergeetlike boeke verskyn het. Daar is iets vir elke leessmaak: van Hertzogpryswenners tot populêre spanningsfiksie, rubrieke en biografieë.”

Afrikaanse lesers kan nou saam gesels en op Afrikaans.com vir hul 100 persoonlike gunstelinge te stem. Elkeen wat stem, kom in aanmerking vir ʼn nuwe Afrikaanse boek, geskenk deur Lapa en NB-uitgewers.

Lees alle vorige berigte oor Afrikaans.com op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.