Stilte en bewustheid, ʼn teenvoeter vir lewe se rotteresies

Johannes de Villiers (Foto: Facebook)

“Die lewe beweeg al hoe vinniger en ons koppe raas al hoe meer,” meen Johannes de Villiers, skrywer van Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe. Hy verduidelik dat ʼn mens se kop, nes jou liggaam, ook deurentyd gesond gehou moet word.

Dit is De Villiers se tweede boek oor bewustheid (mindfulness). Hy verduidelik dat dié konsep mense leer om stilte en bewustheid in hulle lewens te kweek.

Hy verduidelik ook dat die Engelse weergawe van die term doelbewus op die voorblad gebruik is.

“Niemand wat ek geraadpleeg het, het saamgestem oor ʼn gepaste Afrikaanse vertaling nie,” verduidelik De Villiers. “Sommige mense gebruik ‘aandagtigheid’, terwyl ander ‘bewustelikheid’ of ‘teenwoordigheid van gees gebruik’.

“As ek een van die Afrikaanse opsies op die voorblad gebruik het, het niemand geweet waarvan ek praat nie,” sê hy. “Mense moet my asseblief nie kwalik neem nie. Ek is baie lief vir Afrikaans en om die taal suiwer te gebruik.

Die Klooster (Foto: johannesbertusdevilliers.com)

“Dit is ʼn groot ding wat ek in my eie lewe ook nastreef,” voeg hy by. De Villiers gaan stap gereeld en ruim tyd vir meditasiesessies in.

De Villiers woon in die Overberg-distrik langs die Kleinrivier. Hy het ʼn ruk gelede ʼn ou skoolkoshuis gekoop en dit in ʼn woonplek omskep. Dit staan as Klooster bekend en is veral oor naweke toeganklik vir vriende wat wil asemskep.

Dit is ook waar hy skryf en sy gedagtes kan uitspoel.

“Stanford is ʼn ideale omgewing om in te skryf. Veral in die winter wanneer die oggendson oor my skryftafel loer,” vertel De Villiers. Die natuurlewe lê hom na aan die hart en hy stap dikwels in die berge wanneer sy kop moeg gedink is.

“Wanneer my kop heeltemal suf is, gaan stap ek gewoonlik ʼn entjie in die berge en dan sing ek kliphard vir myself,” vertel hy. “En wanneer ek regtig in die bui is dan sing ek sommer liedere uit die ou Psalms- en Gesangeboek.

“Ek luister nie eintlik na musiek terwyl ek werk nie, maar ek sing graag – al is dit vals,” skerts De Villiers.

Dit gaan gewoonlik gepaard met ʼn huppel in sy stap terwyl hy uit volle bors sing. En hy doen dit met oorgawe, want “al wat my kan hoor, is die bobbejane en die dassies in die veld”.

Hoewel De Villiers in ʼn vreedsame omgewing skryf, erken hy dat gewone goggas soos woede en nuusgebeure ook by tye hul opwagting maak. Maar tog is dit sy doelbewuste keuse om elke dag gelukkig te wees.

“Party dae gebeur daar min, dan is my walglike wekker die beste deel van die dag,” vertel De Villiers. “Ander dae gebeur lekker dinge – soos om ʼn ekstra-duur roomys by die winkel oorkant my huis te koop.”

Hy meen die meeste mense se dag begin op ʼn slegte noot wanneer die wekker soggens lui, maar vir hom is dit oomblik van dankbaarheid.

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe is by NB-Uitgewers beskikbaar. Vir meer inligting klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Foefie ·

Al hang my lewe daarvan af sal ek myself nie so kan knoop en oplig nie. Ek sal maar moet ‘n ander manier vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.